Clik here to view.

Administrasiegebou by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) Foto: KSUT
Die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) het die plekke waar studente hul eindjaareksamen moet aflê, geskuif.
“Weens omstandighede buite ons beheer, is ons jammer om jou mee te deel dat die eksamen, wat volgende week geskeduleer was om by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum sou plaasvind, nou na die Bellville-kampus en Wingfield- militêre basis in Goodwood toe moet skuif,” het KSUT in ʼn verklaring op sy webwerf gesê.
Die Fakulteit Sake- en Bestuurswetenskappe gaan die eksamen by Wingfield skryf. Alle eksamens begin onderskeidelik om 09:00 en 14:00 en studente moet ʼn uur voor die tyd by die lokale aanmeld.
Busse sal voorsien word vir studente wat in Kaapstad en Mowbray in koshuise bly en studente sal onderskeidelik 07:00 en 12:00 opgelaai word.
Alle eksamens wat in Wellington afgelê moet word, sal by die Wellington-kampus plaasvind soos voorheen aangedui.
“Studente word weer daaraan herinner om hul studentekaarte, identiteitsdokumente of paspoorte saam te neem om toegang te bekom tot busse en eksamenlokale,” het KSUT bygevoeg.
KSUT het ook die besluit geneem om die eksamen vir die Nasionale Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde tot volgende jaar Januarie uit te stel.
“Ons besef dit was ʼn baie moeilike tyd vir studente en daarom het ons die besluit geneem om studente wat, vir watter rede ook al, nie gereed voel om nou die eksamen af te lê nie, toe te laat om volgende jaar die hereksamen te skryf. Studente wat van hierdie opsie gebruik wil maak moet met hul onderskeie fakulteitsbestuurders reëlings te tref.”
Studente word ook aangeraai om die webwerf te besoek vir finale eksamenroosters.