
Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega Foto: Werner Beukes/SAPA
Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê die ondersoek oor beweerde wangedrag deur die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, moet uitgebrei word om ook verdere bewerings teen haar te ondersoek.
“Die DA verwerp president [Jacob] Zuma se versuim om die omvang van die ondersoek oor die geskorste Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee, te vergroot,” het Zakhele Mbhele, woordvoerder van die party, in ʼn verklaring gesê. “Dit is ʼn klap in die gesig vir die miljoene Suid-Afrikaners wat ware aanspreeklikheid verwag vir haar droewige optrede.”
Volgens die DA moet die ondersoek ook bewerings insluit wat in vandag se Sunday Independent gepubliseer is wat aanvoer dat sy steeds in die operasionele bestuur van die polisiediens inmeng, ondanks die feit dat sy geskors is.
In ʼn verklaring wat Vrydag op die presidensie se webwerf gepubliseer is, het Zuma nie die omvang van die ondersoek wat die Farlam-kommissie oor Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee aanbeveel het, vergroot nie. “Die terme bly dieselfde,” lui die verklaring.
Volgens Mbhele handel die ondersoek dus slegs oor die aanbevelings van die Farlam-kommissie van Ondersoek oor die slagting by Marikana. “Maar daar is ʼn wye reeks kwessies wat vereis dat die ondersoek se verwysingsraamwerk vergroot moet word,” het hy bygevoeg.
Die DA het Zuma al twee keer versoek om die ondersoek op rasionele en substantiewe gronde te vergroot. Die mees onlangse rede wat die party aanvoer is die verdoemende bevindings deur die ministeriële verwysingsgroep, wat deur polisieminister Nathi Nhleko in Oktober 2014 op die been gebring is. Dit het Phiyega skuldig bevind aan meineed, wangedrag, bedrog en dat sy die parlement mislei het.
“Phiyega se gebreke strek ver meer as net die tragedie by Marikana,” het Mbhele gesê. “Sy het direk tot die agteruitgang van die polisiediens bygedra en die polisie se vermoë, om seker te maak dat gewone Suid-Afrikaners veilig is in hul eie huise, werksplek en in die straat, benadeel.”
Hy het gesê Zuma minag die veiligheidsbehoeftes van gewone burgers deur nie beslissend en omvattend op te tree wat betref die gebrek aan leierskap in die polisiediens nie. “Dis duidelik dat hul hulpkreet vir ʼn polisiediens wat doeltreffend is en gelei word deur ervare en etiese senior bestuur net nog iets is wat bygevoeg kan word op die lysie van #ThingsZumaLaughsAt.”