
Prof Jonathan Moyo, minister van hoër onderwys in Zimbabwe (Foto: Twitter)
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Zimbabwe Donderdag besoek om met sy eweknieë te vergader oor kommer oor ʼn minister van dié land se dogter se nadoodse ondersoek nadat sy by die Universiteit Kaapstad gesterf het.
Die 20-jarige Zanele Moyo is op 17 Oktober dood aangetref in haar privaat woonstel, wat nie op die kampus was nie. Sy was ʼn tweedejaarstudent en dogter van Jonathan Moyo, Zimbabwe se minister van hoër onderwys.
Gerugte het in Zimbabwe die ronde gedoen dat Zanele se liggaam na Zimbabwe teruggestuur is, sonder sommige van die organe, ná ʼn nadoodse ondersoek in Suid-Afrika gedoen is.
Na die begrafnis het die Chronicle, ʼn staatskoerant in Zimbabwe, berig dat Zanele “sonder ʼn hart” begrawe is. Die koerant het gesê dit het eers tydens ʼn tweede nadoodse ondersoek in Zimbabwe aan die lig gekom.
Motsoaledi en dr. David Parirenyatwa, minister van gesondheid in Zimbabwe, het Donderdag “die raaisel rondom die tragiese dood” bespreek, ná ʼn verklaring uitgereik is oor hoe hulle die saak kan oplos.
“Daar is ook ingestem dat die ministerie van gesondheid in Suid-Afrika en hul eweknieë in Zimbabwe, met behulp van die betrokke owerhede en kenners van albei lande die proses sal versnel om finaliteit te bring,” lui die verklaring. Tydens dié proses sal die ondersoek en vordering gemaak, nadoodse prosedures en bevindings en die repatriasie van die “vermiste organe” hersien word.
Die ministers het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul diepste medelye te toon met die Moyo-gesin.