
Argieffoto
Die regering sal nog R96.6 miljoen beskikbaar stel om met droogteverligting landswyd te help, het Jeff Radebe, minister in die presidensie, Donderdag gesê.
“Dit sluit die aankope van 45 watertenkers vir die verspreiding van water aan betrokke gebiede, boorgate en rehabilitasie, waterbesparing en waterbronaanvullings in,” het Radebe aan verslaggewers gesê tydens ʼn tweeweeklikse kabinetsvergadering in Kaapstad.
Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming sal ook die hervestiging van vee na staatsbeheerde grond toelaat, “waar daar steeds beter weiding beskikbaar is”.
Radebe het Suid-Afrikaners gemaan om ag te slaan op waterbesparingsmaatreëls. “Dit sluit waterbeperkings, prioritisering van waterlekke, om reënwater te versamel en die gebruik van gryswater vir besproeiing in.”
Pres. Jacob Zuma het Donderdag in die parlement gesê die droogte is nog nie ‘n nasionale ramp nie.