
Die brand het al vroeër vandag naby aan die huise gekom Foto: @trafficsa, Twitter
Vyf huise en vyf bungalows is verwoes in ʼn brand wat in Simonstad in Kaapstad woed.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê helikopters maak van waterbomme gebruik om die brand in die Klawervallei onder beheer te bring. Tien pompe en vyf brandweerwaens is ook op die toneel.
Die brand het gister teen die hange uitgebreek, maar sterk wind en ʼn verandering in die windrigting het veroorsaak dat eiendom Donderdag verwoes is.
Vier huise in Dorriesrylaan, een in Harringtonstraat en vyf bungalows in Oatland-vakansieoord het tot op die grond afgebrand.
Charlotte Powell, woordvoerder vir die stad Kaapstad, het gesê die Froggy Pond-gebied in Simonstad is ontruim en die pad tussen Simonstad en Kaappunt is ook tussen Boulderstrand en Miller’s Point gesluit. “Die pad is slegs oop vir inwoners en persone word versoek om die paaie oop te hou om seker te maak dat noodvoertuie kan reageer,” het sy gesê.
Powell het bevestig 200 huise in die Froggy Pond-gebied word ontruim.
Kay Montgomery, ‘n natuurbewaringsjoernalis, het intussen op Twitter bevestig bobbejaantroppe tussen Waterfall en Smitswinkel is veilig.
SANParke monitor die pikkewynkolonie by Boulderstrand.
Teams from @TableMountainNP @wo_fire, @vwsfires needing food/drinks @NewlandsForest Firebase. They’ve been on #simonstownfire since early AM
— VWS Wildfires (@vwsfires) November 19, 2015