
Amy Mills (5). Foto: Verskaf
“Ek gaan nie vir Amy sien grootword en sien dans en sing nie. Ek gaan nie eendag haar kindertjies sien grootword nie. Dit sou dalk moontlik gewees het as meer mense bewus was van orgaanskenkings.” Dit is die woorde van Natasha Miller wat Dinsdag haar dogter op vyfjarige ouderdom weens ʼn seldsame hartsiekte aan die dood moes afstaan terwyl sy op ʼn skenkerhart gewag het.
Amy is op 8 September 2010 in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad gebore nadat haar ouers, Michael en Natasha Miller van Umhlanga naby Durban, deur voorgeboorte-sonars op 20 weke van swangerskap uitgevind het dat hul baba moontlik ʼn hartdefek het. Die egpaar is spesiaal na dié hospitaal vir haar geboorte om by van die land se beste hartspesialiste en -chirurge te wees.
Haar hart se belangrikste pompkamer het nie voldoende ontwikkel nie en Amy het haar eerste hartoperasie gehad toe sy ses dae oud was. Op vier maande het sy ʼn tweede operasie ondergaan en haar laaste toe sy twee jaar oud was.
Met dié drie operasies kon haar dokters vir haar ʼn paar jaar wen. ʼn Paar jaar waarin sy diep in haar ouers, familie en selfs vreemdelinge wat van haar verhaal bewus geword het, se harte ingekruip het.
Amy het die afgelope paar maande ietwat van ʼn woordvoerder vir orgaanskenking geword nadat haar toestand begin vererger het. Sy het drie keer hartversaking gekry en kon tydens al drie geleenthede gestabiliseer word.
“Sy was in haar eerste jaar sowat 60 dae in die hospitaal en in haar tweede jaar tien dae. Andersins was sy heel gesond, maar ons het haar mooi opgepas. Haar sussie, Layla (nou drie jaar oud), is gebore en Amy was mal daaroor om familietyd saam met ons almal deur te bring. Sy sou eerder saam met ons wou wees as wat sy met speelgoed wou speel,” het Natasha Donderdag aan Maroela Media gesê.

Amy saam met haar gesin. Foto: Verskaf
Amy is in Augustus amptelik op die hartoorplantingslys vir kinders geplaas nadat haar hart so “moeg” geword het dat sy slegs met ʼn nuwe hart ʼn kans sou staan om te kon lewe. ʼn Geskikte hart kon egter nie vinnig genoeg vir haar gevind word nie en sy is Dinsdag in die hospitaal dood.
“Sy het die afgelope twee weke baie pyn gehad. Weens swak bloedtoevoer het sy gedurig pyn in haar voete, bene en hande gehad. Die hartversaking het ook veroorsaak dat haar lewer vergroot het wat vir haar erge maagseer gegee het. Sy kon skaars eet. Sy is Sondag in die hospitaal opgeneem.”
Natasha het gesê dit het Maandag ʼn bietjie beter met haar gegaan en die gesin kon ʼn lekker tydjie saam hê. “Dinsdag het sy gekla dat haar bors en been pyn. Haar handjies het begin skud en skielik was alles verby.”
Haar dokter het sowat 40 minute lank alles probeer om haar by te bring, maar was onsuksesvol.
Natasha het gesê sy hoop Amy se dood sal ander inspireer om orgaanskenkers te word.
“Amy was op haar gelukkigste as sy kon sing en dans. Sy was mal oor musiek en musiekspelvideo’s. Haar gunsteling-liedjie was “Roar” van Katy Perry en sy het omtrent elke woord daarvan geken,” het Natasha hartseer gesê.
Sy het gesê dat Amy langer hier op aarde kon sing en dans as meer mense bewus was van orgaanskenkings. “Daar gaan elke dag mense dood. Mense wat potensiële orgaanskenkers kan wees. Mense wat organe kan skenk wat nie net kinders nie, maar volwassenes se lewens kan red. As meer mense dit besef en registreer om orgaanskenkers te word, dan sal Amy se dood nie doelloos wees nie.”
Natasha, Michael en Layla is geregistreerde orgaanskenkers. Amy se hooforgane kon nie geskenk word nie, aangesien dit te lank sonder suurstof was. “Haar korneas kon wel geskenk word, so ons weet darem Amy gaan iemand anders die kans gee om te kan sien.”
Amy word Vrydag om 13:00 vanuit die by die Grace Family Church in Umhlanga ter ruste gelê.
Klik hier vir meer inligting oor hoe om ʼn orgaanskenker te word, of bel die Orgaanskenkingstigting Maandag tot Vrydag tydens kantoorure by 0800 22 66 11.
Hier sing Amy haar gunsteling liedjie: