
Paramedikus C Lennox en N Scott van die padverkeersinspektoraat probeer om ʼn beseerde bok te kalmeer Foto: Rescue Care
Drie mense en talle bokke en skape is Dinsdag beseer toe ʼn vragmotor op die M7 naby die N2 in ʼn suidelike rigting in KwaZulu-Natal omgeslaan het.
“Die vragmotor het op sy sy gelê toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê. “Van die vee het op die besige snelweg rondgestaan. Talle vee het ernstige beserings opgedoen en moes deur beamptes van die Dierebeskermingsvereniging van kant gemaak word.”
Volgens Jamieson het die drie insittendes van die vragmotor ook matige beserings opgedoen en hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die afrit na die N2-suid is gesluit terwyl nooddienste die toneel opgeruim het.
Dit is nog nie duidelik waarom die vragmotor omgeslaan het nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.