
Argieffoto
ʼn Vrou is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat sy ophou asemhaal het nadat sy Sondagoggend in Umhlanga in KwaZulu-Natal gaan skubaduik het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die vrou het sowat 18 m diep by Grannies Pool geduik en glo op pad terug na die oppervlak ʼn dekompressiestop uitgevoer. “Toe sy by die oppervlak kom, het sy egter ophou asemhaal,” het Botha gesê.
Toe paramedici omstreeks 10:00 by die toneel opgedaag het, is die vrou reeds na die strand geneem waar lewensredders noodhulp op haar toegepas het.
Paramedici het by die lewensredders oorgeneem en die vrou aan ʼn ventilator gekoppel en onverpoos gewerk om haar by te bring. “Hulle kon uiteindelik daarin slaag om haar hartklop te herwin, waarna sy gestabiliseer en na ʼn plaaslike hospitaal geneem is,” het Botha gesê.
Omstandighede rondom die voorval sal ondersoek word.