
Die eerste verdagte (29) wat vroeg Saterdagoggend in hegtenis geneem is. Foto: Spoorsnyers
Altesaam ses mense is in hegtenis geneem in verband met die moord op Piet Venter (51), die wildboer van die Rooiberg-omgewing, tussen Thabazimbi en Bela-Bela (Warmbad), wat deur die loop van Vrydagaand op sy plaas, Chaheng Hunting Safaris, vermoor is.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Sondag Venter se naam aan Maroela Media bevestig.
“Een van die verdagtes is in Rooiberg in hegtenis geneem, een in Bela-Bela en die ander drie in Pretoria,” het Ledwaba gesê.
Die vyf verdagtes se inhegtenisneming volg binne 24 uur nadat ʼn 29-jarige man Saterdagoggend ná Venter se moord in Bela-Bela aangekeer is.
Maroela Media het vroeër berig Venter het geslaap toe ʼn onbekende aantal verdagtes toegang tot sy plaashuis verkry en hom oorweldig en vermoor het.
“Voorlopige ondersoek dui daarop dat hy verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal egter gedoen word om presies te bepaal hoe hy dood is,” het Ledwaba vroeër gesê.
Die verdagtes het met die boer se kluis van die toneel gevlug.
Die Rooiberg-polisie is oor die voorval ingelig en is dadelik na die toneel. ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en die 29-jarige verdagte is vasgetrek. Die gesteelde kluis, met ʼn vuurwapen, ammunisie en kontant, is kort daarna in ʼn veld buite die dorp opgespoor.
Al ses verdagtes sal na verwagting Maandag of Dinsdag in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Intussen het die Spoorsnyers, ʼn private veiligheidsmaatskappy wat saam met die polisie en die Heritage Protection Group (HPG) gehelp het om van die verdagtes vas te trek, gesê twee van die verdagtes was fisiek by die aanval betrokke, asook dat Venter vermoedelik met ʼn serp verwurg is. Die maatskappy het gesê die ander vier verdagtes is glo by die sameswering van sy moord betrokke en van hulle was goeie kennisse van die slagoffer.
Volgens die Spoorsnyers is die verdagtes vier mans, onderskeidelik 18, 29, 40 en 54 jaar oud, en twee vroue, onderskeidelik 46 en 40 jaar oud. Hulle name mag eers bekend gemaak word nadat hulle in die hof verskyn het.