
Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit
Terwyl die slagordes vandeesweek opgestel word voor vir die grootste regstellendeaksie-saak nóg in Suid-Afrika, veg die bruin lede van die departement van korrektiewe dienste (DKD) ’n alleenstryd. Sό het die vakbond Solidariteit Sondag op die vooraand van sy hofsaak teen die DKD oor sy toepassing van regstellende aksie gesê.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê met die komende munisipale verkiesings wat wag, is politieke partye doodstil oor die saak. “Die Cosatu-vakbond, Popcru, het besluit om as vriend van die hof teen hierdie lede op te tree; die staat draai alle krane teen hulle oop; selfs die Suid-Afrikaanse Polisiediens het as vriend van die hof teen hulle toegetree; en geen burgerlike organisasie het as vriend van die hof vir hulle ingetree nie. Die boodskap aan bruin Suid-Afrikaners is: Bruin man, jy is op jou eie,” het Hermann gesê.
Die drie jaar lange stryd tussen Solidariteit en die DKD gaan oor die regmatigheid van die DKD se regstellendeaksie-plan wat ten doel het om die nasionale rassedemografie in elke provinsie af te dwing.
Hermann meen ’n negatiewe uitkoms in die saak sal radikale gevolge vir die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap hê. “Indien daar bevind word dat regstellendeaksie-planne wat die nasionale rassedemografie in ’n provinsie soos die Wes-Kaap afdwing wel regmatig is, sal dit beteken dat bruin Suid-Afrikaners van hulle provinsiale verteenwoordiging, naamlik 52%, tot sowat 9%, die nasionale syfer, afbestuur moet word. Gevolglik sal daar sowat 1 miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap wees. Die uitwerking vir ander minderheidsgroepe soos die Indiër-gemeenskap in KwaZulu-Natal, die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap, asook wit Suid-Afrikaners in die res van Suid-Afrika sal net so radikaal wees.”
Wen Solidariteit die saak, sal die gesig van regstellende aksie in die staatsdiens asook die privaat sektor vir altyd verander.
Hy het gesê ondanks die moontlike katastrofiese gevolge wat ’n negatiewe uitkoms in die saak vir die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap kan hê, het die regerende party in die provinsie besluit om ’n lae profiel te handhaaf. “Die DA is so besig om hom strategies reg te plaas vir swart steun vir die 2016 munisipale verkiesing dat hy eerder so min moontlik oor die saak sê. Die DA sal in privaat gesprekke vertel hoe belangrik dit is dat Solidariteit die saak beveg, maar in die openbare ruimte is dit doodstil. Ek het in ’n persoonlike gesprek vir Mmusi Maimane, leier van die DA, die belangrikheid van die saak verduidelik en gesê die gemeenskap soek hom en ander leiers in die hof. Die DA vermy die politieke dilemma ten koste van die meerderheidstem in die Wes-Kaap.”
Die Wes-Kaapse streeksekretaris van Cosatu, Tony Ehrenreich, het hom al verskeie kere in die media teen die toepassing van die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap uitgespreek. “Ondanks hierdie lippediens het die Cosatu-vakbond, Popcru, stelling ingeneem as vriend van die hof teen die DKD-werknemers se saak. Cosatu se standpunt in die hof is dat die nasionale rassedemografie gebruik kan word om teen die bruin werknemers in die Wes-Kaap te diskrimineer. Dit is ongekend dat ’n vakbond vír die werkgewer en téén die werknemers optree.”
Volgens Hermann is Marius Fransman, leier van die ANC in die Wes-Kaap, ook “doodstil” oor die saak. “Die ANC se nasionale beleid oor regstellende aksie stel dit duidelik dat die nasionale rassedemografie in elke provinsie en op elke posvlak weerspieël moet word. Dit vind neerslag in alle staatsdepartemente se regstellendeaksie-planne. In die DKD-saak het die SAPD ook as vriend van die hof toegetree, wat wys hoe ernstig hulle en die staat hierdie saak beskou. Die staat sal nie hierdie saak so aggressief voer as Luthuli-huis dit nie steun nie.”
Hy het gesê daar is ook geen burgerlike organisasie wat as vriend van die hof aan die kant van die DKD-werknemers se saak toegetree het nie.
“Rassedemografie in Suid-Afrika het die politiek geword. Almal neem stelling in vir die rassemeerderheid. Bruines se stemme word waardeer, maar hul legitieme stryd is ongelukkig nie polities korrek nie. Die Wes-Kaapse kiesers word vir ’n groter nasionale strategie geoffer,” het Hermann bygevoeg.
Die saak word Woensdag 18 November in die konstitusionele hof in Johannesburg aangehoor.