
Die Notre Dame-katedraal. Argieffoto.
Spesiale kerkdienste word by die Notre Dame-katedraal in Parys en oor die hele Frankryk beplan ter ere van die 129 mense wat tot dusver dood is ná Vrydagaand se terreuraanvalle in die stad. Meer as 350 mense is in die aanvalle beseer.
Die katedraal, soos verskeie ander sleutelpunte in die stad, is tans vir toeriste gesluit, maar wel oop vir kerkgangers wat die dienste gedurende die dag wil bywoon.
Maroela Media het vroeër berig ʼn reeks selfmoordbom- en vuurwapenaanvalle by ses plekke in Parys het onder meer sokkerondersteuners by Frankryk se nasionale stadion, jong mense wat by ʼn konsert was en mense by kuierplekke en restaurante geteiken.
Francois Hollande, die Franse president, het ʼn noodtoestand afgekondig te midde van die aanvalle, wat as die ergste in Frankryk sedert die Tweede Wêreldoorlog beskryf word. Hy het ook die land se grense gesluit en gesê die land gaan amptelik vir drie dae rou.
Militante van die Islamitiese Staat (IS) het in ʼn aanlyn verklaring verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.
Hollande het die aanvalle as ʼn oorlogsdaad bestempel en ook die IS daarvoor blameer. Hy het belowe dat Frankryk sterk sal staan teen sy vyande.
Intussen het Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê teen Saterdagaand is daar nog geen berigte ontvang van Suid-Afrikaners wat in die aanvalle dood is nie. Hy het mense wat naasbestaandes in Parys het en nog nie van hulle gehoor het nie, versoek om die departement by 012 351 1000 te bel. Die departement is voortdurend in verbinding met die ambassade in Frankryk en sal inligting en navrae deurstuur.