
Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.
Die stigtingskomitee Afrikaanse Alumni-vereniging (AAV) het Sondag gesê die aankondiging dat die Universiteit Stellenbosch (US) vanaf 2016 primêr Engels moet wees, is ʼn geval van irrasionele transformasie.
Dit volg nadat prof. Wim de Villiers, rektor van die US, sy bestuur se nuwe taalplanne as dringende transformasiemaatreëls verdedig het.
In ʼn brief aan senaatslede, waarin hy die nuwe taalmaatreëls aankondig, het De Villiers dit as “dringende transformasiemaatreëls” bestempel wat reeds vanaf 2016 toegepas sal word. De Villiers het glo beklemtoon dat die maatreëls die produk van konsensus met die drukgroep Open Stellenbosch is.
Volgens adv. Jacques du Preez, woordvoerder van die AAV, beteken transformasie vir die US-bestuur klaarblyklik ook die verengelsing van die universiteit. “Transformasie is ʼn grondwetlik ongedefinieerde begrip, in die naam waarvan ongrondwetlike uitkomste nagestreef word. Dit is die probleem. In die US se geval beteken transformasie nou blykbaar selfs dat die universiteit primêr Engels moet word, en dat Afrikaans ʼn mindere en al kleiner wordende rol moet speel. Só gedefinieer, is transformasie egter grondwetlik en intellektueel bankrot,” het Du Preez gesê.
Lees meer oor: Open Stellenbosch, Universiteit Stellenbosch