
Argieffoto
Die sakeregtewaghond, AfriSake, het vandeesweek verdere regstappe teen Eskom gedoen nadat die elektrisiteitsverskaffer geweier het om sekere inligting oor die uitbetaling van bonusse aan sy topbestuur vir die 2014/15-boekjaar aan AfriSake beskikbaar te stel.
AfriSake het Eskom reeds in September vanjaar ingevolge die Wet op die Bevordering van Inligting versoek om inligting beskikbaar te stel oor onder meer die prestasie-ooreenkomste, evalueringsverslae en notules van die vergadering waar dié bonusse goedgekeur is, asook ʼn lys van topbestuurslede wat dié bonusse ontvang het.
“Eskom weier egter omdat die inligting volgens hulle persoonlik van aard is. Hulle voer ook aan dat hulle geen bonusse in die 2014/15-boekjaar betaal het nie,” het Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, gesê.
“Eskom se netto inkomste het gedurende die 2014/15-boekjaar met meer as die helfte gedaal. Tog word bonusse van miljoene rande met belastingbetalers se geld betaal.”
Pieterse het gesê AfriSake het ’n interne appèl van stapel gestuur om die inligting te bekom. “Indien dié appèl onsuksesvol is, sal AfriSake die hof met ’n aansoek nader om Eskom te verplig om die inligting beskikbaar te stel.”