
Die skoolbus waarin die twee meisies dood is. Foto: Netcare 911
Dipuo Peters, minister van vervoer, het Vrydag met die afskop van die Nasionale Padveiligheidsberaad in Kaapstad gesê wetstoepassingsagentskappe moet die oorsaak van die brand op ʼn skoolbus bepaal waarin driejarige tweelingsussies gesterf het.
Maroela Media het vroeër berig die sussies is Vrydag dood nadat die skoolbus waarin hulle gery het, op die N3-snelweg tussen Warden en Harrismith in die Vrystaat aan die brand geslaan het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die bus het tussen die twee dorpe gery toe dit skielik begin brand het. Die bus het 22 kinders vervoer.
“Die bus het van die pad af geswenk en teen ʼn steilte langs die snelweg tot stilstand gekom,” het hy gesê.
Toe paramedici en die brandweer by die toneel opdaag, was die bus in ligte laaie en baie van die kinders was langs die bus. “Twee het kritieke beserings opgedoen. Vier is ernstig beseer en 17 het geringe beserings opgedoen.”
Die tweeling kon nie dadelik opgespoor word nie, maar is later gevind toe die brand in bedwang gebring en die skoolbus deursoek is.
Die beseerdes is op die toneel behandel en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling en waarneming.
Peters het gesê die voorval het haar baie ontstel.
“Die rede vir hierdie beraad is juis om werklike en blywende oplossings te vind vir die slagting op ons land se paaie,” het Peters gesê. “As ons almal, motoriste, passasiers en voetgangers, saamwerk en die padreëls gehoorsaam, kan ons hierdie slagting op ons paaie te stopsit.”