
Die voertuig waarin die polisiebeampte geskiet is. Foto: SAPD
Die vroulike polisiebeampte wat kritiek gewond is nadat verdagtes vroeër vandeesweek op ʼn polisievoertuig op ʼn Johannesburgse snelweg losgebrand het, het Vrydag aan haar beserings in die Milpark-hospitaal beswyk.
Sers. Sharon Ralinala (44) is Maandag geskiet toe sy die Goue Hoofweg saam met kollegas patrolleer het.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê drie polisiebeamptes het omstreeks 14:00 ʼn verdagte wit BMW opgemerk.
“Hulle het probeer om die motor van die pad af te trek, maar die insittendes het op die polisievoertuig losgebrand,” het Dlamini gesê. Die bestuurder van die polisievoertuig het beheer oor die motor verloor en teen ʼn boom gebots. Die verdagtes in die BMW het gevlug.
Ralinala, wat agter in die polisiemotor gesit het, is in die bolyf gewond en in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem. Die ander twee polisiebeamptes is nie beseer nie.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.



