
Die kitsbank wat opgeblaas is. Foto: SAPD
ʼn Groep van vyf verdagtes het Vrydag in die vroeë oggendure ʼn kitsbank by ʼn vulstasie in Limpopo opgeblaas, maar te danke aan die polisie se flinke optrede het die rowers sonder ʼn sent op die vlug geslaan.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het gesê personeel by ʼn plaaslike vulstasie in Atok, suidoos van Polokwane, het omstreeks 02:15 drie verdagte mans by die stasie opgemerk en hulself in die winkel gaan toesluit en hulp ontbied.
“Daar het na bewering twee mans wat klapmusse gedra het by die ander drie aangesluit waarna ʼn harde ontploffing gevolg het,” het Ledwaba gesê.
Hy het gesê die verdagtes was nog besig om toegang tot die kontant in die kitsbank te kry toe hulle deur die polisie verras is.
Die verdagtes het op vlug geslaan en is steeds soek.
Die Apel-polisie het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur.