Ian Gray, NSRI-stasiebevelvoerder in Port Elizabeth, het gesê die reddingspan is omstreeks 20:00 na die strand by Summerstrand geroep nadat lede van die publiek glo noodfakkels oor die see gesien het. “Ons het ons seereddingsboot, Eikos Rescuer IV, uitgestuur terwyl die kusreddingspan op die strand die lug dopgehou het sodat hulle kon help om die rigting waarheen die reddingsboot moet gaan te bepaal,” het Gray gesê.
Volgens hom het hulle voortgegaan met ʼn uitgebreide soektog, terwyl ooggetuies by ʼn plaaslike restaurant gesê het hulle is oortuig dat dit wel noodfakkels was wat hulle gesien het. Lede van die NSRI-bemanning het ook van die strandgangers ondervra, waarna dit aan die lig gekom het dat ʼn groep mense op die strand tien Chinese lanterns die lug in gestuur het as deel van ʼn gedenkdiens.
“Omdat die oorspronklike ooggetuies so oortuig was dat hulle noodfakkels gesien het, wou ons seker maak dat daar nie wel iemand op die see in nood is en daar nie dalk net toevallig op dieselfde tyd noodfakkels en Chinese lanterns in die lug opgestuur is nie,” het Gray gesê. “Nadat die uitgebreide soektog egter geen tekens van iemand in nood of verlate bote op die see of voertuie langs die kus opgelewer het nie, en niemand as vermis aangemeld is nie, is die soektog afgelas. Ons gaan egter voort om die situasie te monitor.”
Gray het weer eens ʼn beroep op die publiek gedoen om nie Chinese lanterns in die lug in te stuur nie aangesien dit met noodfakkels verwar word, ʼn brandgevaar asook ʼn gevaar vir lugvaartuie inhou.