Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê drie gewapende rowers het by ʼn huis in die Greenwood-omgewing aangekom en ʼn vierpondhamer met ʼn lang steel gebruik om ʼn veiligheidshek en deur mee oop te breek. “Daar was slegs een man in die huis ten tyde van die inbraak en hy was glo besig om te oefen met oorfone aan en het daarom nie gehoor toe die verdagtes inkom nie,” het Naicker gesê.
Die rowers het vuurwapens op die man gerig en die kluis se sleutels geëis. Skote is in die proses afgevuur. ʼn Buurman wat die oproer gehoor het, het homself bewapen en gaan ondersoek instel, het Naicker gesê. ʼn Skietgeveg het tussen die buurman en die rowers ontstaan en al drie rowers is in die bors gewond.
“Twee van die rowers is op die toneel dood, terwyl ʼn derde na die Addington-hospitaal geneem is. Hy het daar aan sy wonde beswyk,” het Naicker gesê. Hy het gesê die identiteit van die rowers is nog onbekend.
“Die verdagtes het met ʼn motor met blou polisieligte by die huis opgedaag. Die motor is later verbind met ʼn kapingsaak wat in Oktober by die Chatsworth-polisiestasie aanhangig gemaak is.”
Volgens Naicker is ʼn geregtelike doodsondersoek geopen. “Daar is oorweldigende bewyse dat die rowers op die buurman geskiet het en dat hy bloot uit selfverdediging opgetree het. Dit sal dus in hierdie geval nie gepas wees om ʼn saak van moord te ondersoek soos in sommige misdaadvoorvalle wel die geval is nie,” het hy gesê. Sake van huisbraak, poging tot moord, besit van ʼn gevaarlike wapen en onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie word ook ondersoek.