ʼn Gedeelte van die M1-snelweg naby die Grayston-afrit waar ʼn voetgangerbrug, wat nog in aanbou was, verlede maand ineengestort het, sal Vrydag vir ʼn kort rukkie gesluit wees vir ʼn reinigingseremonie.
Twee mense is dood en meer as 20 beseer toe die brug op 14 Oktober ineengestort het. Murray & Roberts was besig met die bou van die ‘Great Walk-brug’ toe dit ineengestort het.
Die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap het Donderdag gesê die departement van arbeid het hulle toestemming gegee om die konstruksie van die brug te hervat. “Voor die konstruksie kan voortgaan, is ʼn reiniging van die toneel gereël in samewerking met die Johannesburgse metropolisie (JMPD) se kapelaansdienste en plaaslike geloofsleiers,” het die agentskap gesê.
“Motoriste word in kennis gestel dat die M1-snelweg in ʼn noordelike en suidelike rigting van 10:00 tot 10:15 gesluit sal word sodat ʼn wydings- en reinigingseremonie by die ongelukstoneel kan plaasvind.”
Die JMPD sal die verkeer herlei.