
Studente by die Universiteit Stellenbosch (Argieffoto)
Adam Tas, die studentevereniging vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Stellenbosch, het gesê Afrikaans is ‘n ‘geweldige, verraderlike hou toegedien’ by dié instansie.
Die vereniging, wat ook as alternatiewe Afrikaanse studentevereniging van die universiteit dien, het reageer op ʼn verklaring oor die taalbeleid by die universiteit wat die rektor se bestuurspan Donderdag uitgereik het. Volgens die verklaring sal die taalbeleid van die universiteit vanaf 2016 verander na ‘n stelsel met Engels as hooftaal in akademiese en administratiewe sfere op kampus en Afrikaans en IsiXhosa sal as “addisionele” tale geag word, en hul akademiese kapasiteit steeds uitgebou word.
“Ons as bestuur is vanaand hiervan ingelig,” het die Adam Tas-vereniging in ʼn verklaring gesê. “Geen gesprekvoering of publieke deelname rondom die vraagstuk is ooit onderneem nie, en slegs sekere studentegroepe blyk deel te gehad het aan die klandestiene onderhandelinge wat tot die besluit gelei het.”
Die rektor se bestuurspan het gesê die voorstelle kom ná gesprekke met Open Stellenbosch, die Verteenwoordigende Studenteraad, [studentevakbond] Sasco en die Studenteparlement.
“Adam Tas veroordeel die debakel ten sterktste, en ons vra die solidariteit van al ons lede en volgelinge om die bestuur by te staan in die nuwe stryd vir Afrikaans en IsiXhosa se Grondwetlike posisie,” lui die verklaring. “Afrikaans by US is werklik vandag ‘n rugdolk toegedien: maar hierdie doringboompie, soos die digter geskrywe het, sal homself uit die stof optel.”
Lees meer oor: Open Stellenbosch, Universiteit Stellenbosch