Thapelo Matebesi, woordvoerder van die munisipaliteit, het Donderdag gesê dit is belangrik dat inwoners die erns van die waterbeperkings verstaan. “Ons versoek almal om ag te slaan op die waterbeperkings en water te bespaar aangesien dit waardevol is en nie vervang kan word nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die hoofbydraers tot water in die munisipale area is Magalies Water en Rand Water. “Die stelsels is tans onder hewige druk weens die hittegolf en die buitengewone droë weerstoestande. Die vlak van Rand Water se Barnardsvlei-reservoir het verlede maand van ʼn stabiele 80% na ʼn kritieke 14% gedaal. Die Bospoort-reservoir wat die Boitekong-gebied moet voorsien, staan tans op net 6%,” het hy gesê.
Volgens Matebesi is die ernstigste gevolg van die kwynende watervoorraad die effek op stapelgewasse en uiteindelik, kommersiële gewasse. “Die domino-effek van die druk op gewasse kan gesien word in die bevolkingsverskuiwing van plattelandse areas na die stede, plaaswerkers wat afgedank word en plase wat heeltemal ophou produseer, asook die vermeerdering in skuld in die landbousektor.”
Intussen het die Moses Kotane-munisipaliteit, noord van Rustenburg, gesê geen waterbeperkings is nog ingestel nie. “Daar is nog geen beperkings ingestel nie, maar die munisipaliteit het wel ʼn tekort aan water ervaar weens ʼn kragonderbreking by Vaalkopdam as deel van infrastruktuur-opgraderings,” het Beauty Makganye, woordvoerder van dié munisipaliteit, gesê.