Carolize Muller sterk tans in die hospitaal aan nadat sy gewond is toe twee gewapende mans Saterdagaand die motor waarin sy, haar ma, Elsabe (43), en haar ma se vriend, Jaco van Eeden (47), was voor hul huis in Fochville probeer kaap het.
Fanie Muller, Carolize se oupa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Carolize moes geopereer word om die koeël wat deur Jaco se bolyf gegaan en haar in die been getref het, te verwyder. “Dit gaan medies gesproke goed met haar. Die operasie was ʼn sukses en sy sterk in ʼn gewone saal aan.”
Hy het gesê Carolize is egter erg getraumatiseerd ná die voorval en kan duidelik die gebeure van die aand onthou. “Sy het vir my en haar ouma presies vertel wat gebeur het. Ek dink sy is nog erg geskok, want terwyl sy praat, staar sy net so voor haar uit,” het hy gesê. “Sy het vir die speurders gesê sy sal beslis die verdagtes kan uitken as sy hulle sien. Sy onthou duidelik hoe hulle gelyk het en het gesê hulle was albei jonk. Sy kan selfs onthou watter klere hulle aangehad het.”
Volgens Fanie is daar vroeër foutiewe inligting versprei dat Jaco die motor se sleutels in die erf in gegooi het toe die moordenaars dit geëis het. “Die sleutels het in die kar geval en Jaco het nie geweet waar dit is nie,” het hy verduidelik. “Die twee mans het Carolize, Elsabe en Jaco agter in hulle motor in gedwing en vir Jaco gevra waar die sleutels is. Hy het gesê hy weet nie, want dit het êrens in die motor geval, maar hulle het aanhou vra hy moet die sleutels gee en gedreig om hom te skiet.”
Toe die moordenaars die derde keer vir die sleutels gevra het en Jaco dit nie kon gee nie, het hulle hom in sy bors geskiet, het Fanie gesê. Die koeël het dwarsdeur hom gegaan en Carolize in die been getref. Elsabe het na Jaco toe uitgereik en sy is in die bors geskiet. Sy het bo-oor Carolize inmekaargesak.
“Carolize is ontsettend getraumatiseerd en verskriklik hartseer oor wat gebeur het. Ons het gereël dat sy traumaberading kry en ʼn professor wat hierin spesialiseer, sal haar môreoggend kom sien,” het Fanie gesê. Hy het gesê sodra Carolize uit die hospitaal ontslaan is, sal sy saam met hom en sy vrou terugkeer na Brits in Noordwes. Dan sal hulle besluit by wie sy voortaan gaan bly. “Ons gaan die besluit aan haar oorlaat. Sy kan self besluit waar sy wil bly.”
Intussen wag die families dat die nadoodse ondersoeke afgehandel word voordat begrafnisreëlings gefinaliseer sal word. “Elsabe sal in Brits begrawe word waar sy vandaan kom. Voorlopig sal die begrafnis Dinsdag om 11:00 by die APK-kerk plaasvind,” het Fanie gesê. Jaco sal glo tydens ʼn aparte gedenkdiens in Klerksdorp ter ruste gelê word.