Kevin Wakeford, uitvoerende hoof van Armscor, het tydens ʼn nuuskonferensie in Pretoria aan verslaggewers gesê inligting word net sover ingewin oor die moontlike aankoop. “Ek weet nie waar die bedrag van R4 miljard vandaan kom nie, want eerlikwaar, ons kan dit nie bekostig nie. Ons kyk na ʼn wye verskeidenheid opsies,” het Wakeford gesê.
“Ons win tans inligting in sodat ons die koste [van die nuwe vliegtuig] kan bepaal. Totdat ons die koste daarvan vasgestel het, gaan ons niks onverantwoordelik doen nie. Dit kan ek julle verseker.”
Wakeford het gesê Suid-Afrika se rol op die internasionale verhoog het aansienlik gegroei en daarom is ʼn nuwe vliegtuig nodig. Nuusberigte die naweek het beweer die nuwe vliegtuig wat in die staat in gedagte het, sal ongeveer R4 miljard kos.
“Mense sit nie op die vliegtuig en niks doen nie. Hulle werk sodat hulle voorbereid is wanneer hulle [by hul bestemming] aankom,” het Wakeford gesê. “Hulle het satelliet telekonferensies om met leiers van ander lande te praat. [Die vliegtuig] is nie ʼn speelding nie.”
Pres. Jacob Zuma se kantoor het Armscor Maandag versoek om meer inligting te verskaf oor die beweerde planne om ʼn nuwe presidensiële vliegtuig te koop. Na aanleiding daarvan is die media Dinsdag by die Waterkloof Lugmagbasis toegespreek.
Die departement het Armscor beveel om voort te gaan met die aankoop van ʼn BBP-vliegtuig om die huidige een, die Inkwazi, te vervang met een wat dubbel die ruimte het. Die Demokratiese Alliansie (DA) het die aankoop ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op Zuma gedoen om die aankoop van die vliegtuig te skrap.