
Argieffoto: NASA
Die ontploffing in die atmosfeer wat oor die Oos-Kaap waargeneem en gehoor is, is waarskynlik ’n meteoor van die Taurus sterrereën wat veral in die noordelike halfrond sigbaar is. ’n Soektog na ’n meteoriet wat dalk die oppervlak bereik het is op tou gesit.
’n Sterrereën is die oorblyfsels van ‘n komeet wat steeds in ’n wentelbaan om die son beweeg, en dus maklik voorspelbaar is as die aarde deur so ’n “stert” beweeg.
So ’n sterrereën kry die naam van die sterrekonstellasie waarvandaan dit skynbaar die aarde nader – in hierdie geval Taurus.
Sommige kenners meen egter dis nie net die oorblyfsels van die komeet Encke nie, maar dat die baan met ’n veel ouer vergane komeet gekruis het.
Na berig word bevat hierdie “stert” ongewone groot partikels. Waar dit gewoonlik so groot soos sandkorrels is en dan ’n blitsige streep deur die naghemel trek voor dit uitbrand, is van hierdie korrels so groot soos albasters, Dele kan egter groter wees, en ’n vuurbal veroorsaak. Die groter deeltjies het tot talle waarnemings gelei wat mense op hol gehad het.
Taurus se meteoorreën se eerste piek was op 5 November, en die tweede is op 12 November.
Wanneer ’n meteoor groot genoeg is, kan die oorblyfsel die aarde tref en as meteoriet bekend staan.
In minstens een geval was so ’n “vuurbal” egter nie aan die komeet te wyte nie. Dit wat die inwoners van Los Angeles opgewonde gelaat het, blyk ’n Trident-missiel sonder plofkop te wees wat die Amerikaanse vloot as oefening afgevuur het.
Lees meer by CS Monitor as jy die verskynsel wil fotografeer, en stuur foto’s na spacephotos@space.com.