
Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA
Dit, altans, is wat pres. Jacob Zuma aan die nasie verkondig – dié keer van buite die parlement omdat hy weet die opposisiepartye sou hom vir hierdie soort kafpraatjies “uitgehaal” het.
In die post-Zuma-era sal dit nogal interessant wees om te kyk wanneer die land se ekonomie begin steier het. Presies wanneer het Eskom, wat darem nou saam met apartheid die blaam kry, se chaos begin. O ja, volgens vroeëre uitlatings van Zuma is Eskom se probleme ook aan apartheid te wyte. En kolonialisme. En die land se probleme is sommer aan Jan van Riebeeck se koms te wyte.
Die verskillende indekse sal egter aandui dat baie indikators, soos die korrupsiepersepsie-indeks, tydens Zuma se bewind begin skeefloop en hoofsaaklik die kreeftegang bly gaan het.
Het Zuma Afrika se geskiedenis beter geken, het hy ook geweet hoe ’n groot rol sommige swart stamme gespeel het om ander stamme aan die slawemark te verkwansel. ’n Groot deel van die tragiese gebeure van die Darfoer-streek in Soedan kan nog teruggevoer word na die tyd toe die Dar en die Fur veral swart stamme verder suid se lede ontvoer en verder noord aan Arabiese slawehandelaars verkwansel het.
Ook aan die vasteland se ooskus was slawehandel algemeen waar Arabiere en ander Midde-Oosterse nasies handelsposte en sultanate tot in Mosambiek gehad het. Trouens, Mosambiek se naam kom van sultan Musa ibn Mbiki wat oor die eiland Mosambiek regeer het. Die monarg van Oman het in ’n stadium sy hoofsetel na Zanzibar verskuif.
Aan die westekant van die vasteland het Europese lande slawe weggevoer, wat dikwels bekom is van ander swart stamme wat strooptogte op swakker stamme uitgevoer het. Bekende roetes oor die Sahara het ook baie slawe na die hawens langs die Middellandse See weggevoer.
Dis nou afgesien van sommige volke wat ander volke onderdruk het – soms selfs groter volke as die onderdrukkers, soos die Ahmaras van Ethiopië oor die Oromo’s – ’n praktyk wat steeds nie heeltemal die wyk kan neem nie.
Praat van agterstande… Maar volgens Zuma het Afrika pret gehad totdat Jan van Riebeeck in Suid-Afrika aangekom het…
En dan is daar natuurlik nog die erg politiek-inkorrekte kwessie van Europese slawe wat na Noord-Afrika geneem is. Volgens sommige bronne is tot 1,25 miljoen Europese Christene van die begin van die 16de eeu tot die 19de eeu op die slawemarkte van Noord-Afrika verhandel. Hulle is in strooptogte tot so ver as Ysland versamel. Omdat die manslawe ontman is, is daar nie veel van ’n etniese spoor van hulle oor nie.
Zuma se geskiedenisprentjie is so lagwekkend versteur dat die baba saam met die badwater uitgesmyt word. Kolonialisme en apartheid het wel sekere ekonomiese verwrongings tot gevolg gehad, maar dat dit nou juis in Suid-Afrika se geval tot sy termyn sou duur om so ’n vreeslike impak te hê, is gewoon laf.
En die aanhoudende geopper hiervan is gevaarlik, weens die enorme kragte van polarisasie wat daardeur ontketen word. Ou koeie wat uit die sloot gegrawe word, word as strydperde opgetooi, maar dit sou mos beter wees om die bestaande probleme wat by herhaling geïdentifiseer word – soos die sleureffek van kaderontplooiing, nepotisme, die kleptokrasie, rasbenepenheid en korrupsie daadwerklik die hoof te bied.
O ja, korrupsie is mos ’n Westerse konsep.
Zuma is egter nie die eerste ANC-leier wat hom skuldig maak aan die skets van ’n “alternatiewe werklikheid” en dan boonop verwag die publiek moet die halfgebakte kaf sluk nie. Trouens, die meeste partye in die wêreld sou, as hulle in die ANC se posisie was, al besef het dit boemerang as die publiek knaend donkievye as dadels voorgehou word. Die ANC raak egter net ergerlik: “Ons het dan self gesê daar was niks met Zuma se hantering van Nkandla verkeerd nie, en nou dreig julle om hof toe te gaan.” “Ons sê dan daar is ’n goeie storie oor die ANC se regeervermoë te vertel, maar julle hou aan om feite te gebruik om die storie in die wiele te ry.”
Ja, probleme word geïdentifiseer, soos deur knaende taakspanne, maar ai, kom dit by die implementering van oplossings raak die taak net te groot, en is blaampolitiek veel makliker.
Zuma is net so ’n kanniedood soos die legendariese Vaaljapietrekker. Dié sou in die modder vasval, en so wegsak dat tot die skoorsteen naderhand onder die modder verdwyn – maar steeds sal die kanniedood se “doef-doef” van daar onder af gehoor kan word. Maar wegsink is nie wat die land nou nodig het nie.