
Bonkinkosi Khanyile Dinsdag in die hof. Foto: ANA
ʼn 57-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy Sondag twee broers tydens ʼn rusie oor ʼn parkeerplek by ʼn woonstelblok in Durban doodgeskiet het, het Dinsdag in die stad se landdroshof beweer hy het in selfverdediging opgetree.
Volgens die staatsaanklaer, Herman Mouton, het ʼn ooggetuie aan die polisie gesê dat een van Bonkinkosi Khanyile se twee slagoffers die ander een versoek het om ʼn geweer te gaan haal voordat hy op hulle losgebrand en Ahmed (25) en Mohamed (31) Vawda noodlottig gewond het.
Mouton het gesê volgens die ooggetuie het die beskuldigde en die eerste slagoffer oor ʼn parkeerplek baklei en het die slagoffer die beskuldigde aangerand.
Mouton het gesê die slagoffer se vrou het probeer om hom van Khanyile af weg te trek, maar in daardie stadium het sy broer opgedaag en ook begin om Khanyile aan te rand.
ʼn Veiligheidswag het glo ook vergeefs probeer om die bakleiery stop te sit.
“Die ooggetuie het in daardie stadium gehoor hoe een van die broers vir die ander een geskree het om ʼn vuurwapen te gaan haal,” het Mouton gesê.
Drie skote het kort daarna gevolg en die broers is doodgeskiet.
Khanyile het homself aan die veiligheidbeampte oorgegee wat hom in die waghuis aangehou het totdat die polisie op die toneel opgedaag het.
Jacques Botha, Khanyile se prokureur, het gesê sy kliënt, wat ʼn bestuurskool besit en bedryf, het regverdigbaar in selfverdediging opgetree.
Botha het aan die hof gesê dat die beste veroordeling wat die verdediging kan verwag strafbare manslag is.
Daar is vroeër berig dat die voorval omstreeks 17:30 in die parkeergebied van die Kingsford-woonstelle op die esplanade plaasgevind het. Khanyile het ʼn vakansiewoonstel daar en het tydens die voorval saam met sy twee vroue daar tuisgegaan.
Khanyile is op borgtog van R20 000 vrygelaat op die voorwaarde dat hy nie die vakansieverblyf besoek nie, sy paspoort inhandig en nie met enige van die ooggetuies inmeng nie.
Die saak is tot 22 September uitgestel aangesien daar nog vir bewysstukke gewag word.