Die staat versoek dat Pistorius skuldig bevind word op ʼn ernstiger aanklag van moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 doodgeskiet het.
Pistorius is verlede maand vanuit die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria vrygelaat en dien die res van sy vonnis onder korrektiewe toesig in sy oom se luukse herehuis in Waterkloof uit. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, maar het slegs een jaar daarvan uitgedien in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse wetgewing.
Indien hy skuldig bevind word op ʼn aanklag van moord, sal hy ʼn minimum vonnis van 15 jaar tronkstraf opgelê word.
Staatsaanklaers sal poog om die appèlhof se regbank te oortuig dat Pistorius met opset deur die deur geskiet het toe hy vier skote afgevuur het wat Steenkamp doodgemaak het. In die hofdokumente wat reeds ingedien is, het Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, gesê die appèl teen die oorspronklike hofuitspraak is onregverdig aangesien die saak prominent in die openbare oog was “wat die objektiwiteit en geloofwaardigheid van die getuies en verrigtinge kan besoedel”.
Roux het gesê Pistorius het reeds die gevangenis-gedeelte van sy vonnis uitgedien ná ’n “komplekse en uitgerekte verhoor waartydens die feite omvattend deurgegaan is”. Hy het ook gesê Pistorius se vermoë om vir nog ’n verhoor te betaal “bestaan nie”.
ʼn Paneel van vyf regters sal die appèl aanhoor, naamlik P Mpati, JA Mhlantla, JA Leach, JA Majiedt en AJA Baartman.
Joernaliste moes vooraf magtiging kry om die hofverrigtinge te dek. Daar sal ʼn beeldsending van die hofverrigtinge by die hof vir die media opgestel word.