Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

‘Alle e-tolrekeninge onwettig’

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Sanral se toerusting wat vir die Gautengse e-tolstelsel gebruik word, voldoen volgens die Vryheidsfront Plus nie aan wetlike vereistes en voorskrifte nie.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, het gesê alle gelde wat tot nou toe ingevorder is of ingevorder gaan word, is of word op ʼn onwettige wyse gedoen. Volgens Alberts moet Sanral eers aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voldoen voordat hy geld van motoriste mag invorder.

Volgens Alberts het hy op navraag by die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) bevestiging gekry dat die e-toltoerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. “Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie. Die oortreding van die wet kan ernstige gevolge vir die oortreder inhou en ʼn maksimum vonnis van tien jaar gevangenisstraf of ʼn boete, of albei, kan opgelê word. In hierdie geval blyk dat verskeie aspekte van die wet oortree is.”

Alberts het gesê Sanral se versuim om aan die wetsvereistes te voldoen konstateer terselfdertyd ʼn oortreding van vyf artikels van die Nasionale Wet op Verbruikersbeskerming. Volgens Alberts het die VF Plus vandag ʼn klag by die Verbruikerskommissie ingedien.

“Die VF Plus vra die Verbruikerskommissie om ʼn beslissing te maak dat alle rekeninge onwettig verklaar word tot tyd en wyl die spesifikasies van Sanral se e-toltoerusting die goedkeuring van die NRVS wegdra. ʼn Bevinding moet ook gemaak word dat Sanral alle gelde wat reeds aan e-tol betaal is, aan die verbruikers terugbetaal.”

Volgens Alberts is dit van die grootste belang dat hierdie saak, wat tienduisende padgebruikers en die land se totale ekonomie direk raak, so gou moontlik opgeklaar word en dat dringende regstellende stappe geneem word. “Die VF Plus versoek ook die Verbruikerskommissie om ʼn bevel by die Verbruikerstribunaal hieroor te kry indien nodig.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621