ʼn Werker van die OVK-winkel op Fauresmith word wyd geloof vir sy goeie daad om ʼn plaaslike boer te help wat in die knyp was.
Dave Henderson, ʼn beesboer van die omgewing, het aan Maroela Media vertel hoe hy verlede week by die OVK-winkel aangedoen het om aankope te doen. “Ek doen meeste van my aankope in Bloemfontein en kom seker net so twee keer per maand by die winkel in Fauresmith, so ek ken nie die werknemers persoonlik nie. Ek groet almal egter altyd baie vriendelik wanneer ek daar kom en gee altyd ʼn fooitjie vir die ouens wat al die swaar goed vir my op my bakkie laai,” het hy gesê.
Hy vertel dat hy die betrokke dag sowat R1 000 se items by die winkel aangekoop het, maar toe hy by die kassiere kom, besef het dat hy sy beursie op sy plaas, wat 65 km daarvandaan is, vergeet het. “Ek het net gedink ek sou leë hande moes omdraai en die hele pad terugry plaas toe, toe Etienne Lötter, die tak-assistent, vir my kom sê dat Pule my graag sou wou help.”
Pule Lechoko, ʼn algemene werker by die winkel, het nadergestap en aangebied om Henderson se aankope te betaal. “Ek het eers geweier, maar hy het aangehou en gesê: ‘Oom, ek sal betaal anders het oom nou die hele pad verniet gery. Volgende keer maak oom weer met my reg’. Hy het ʼn ou verslete beursie uitgehaal en sy debietkaart te voorskyn gebring om vir die aankope te betaal.”
Henderson is die volgende dag terug OVK toe om sy skuld aan Lechoko te vereffen, maar hy het nie versuim om dadelik die OVK se hoofkantoor in kennis te stel van Lechoko se uitsonderlike gesindheid nie. “Ek het hom nie eers geken nie en hy het my maar net geken van so af en toe daar by die winkel sien. Sy gesindheid was net so uitsonderlik dat hy dadelik aangebied het om my te help,” het Henderson gesê.
“Mense besef nie watter groot rol vriendelikheid en hoflikheid teenoor ander speel nie. Ek sê altyd, niks in die wêreld is so sterk soos ʼn opregte jammer en ʼn vriendelike houding nie. Jy kan maar arm wees, maar as jou gesindheid reg is, is jy ryker as die meeste ander.”