Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het aan Maroela Media gesê kort nadat Opod die ondersoek oorgeneem het, het die beamptes hulle gekontak en daar is ingestem dat hulle na die polisiestasie sou kom waar hulle amptelik in hegtenis geneem is. “Dit is soms beter in sulke gevalle om die beskuldigdes by die polisiestasie in hegtenis te neem eerder as by hul huise om sodoende media-aandag te vermy,” het Langa gesê.
Al vier beamptes is aangekla van moord, maar bykomende aanklagte kan hulle moontlik in die gesig staar namate die ondersoek vorder, het Langa gesê. Die polisiebeamptes sal Dinsdag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.
Die kringtelevisie-beeldmateriaal wat deur Sunday Times bekom is en sedertdien wyd op sosiale media versprei is, toon hoe ʼn 32-jarige verdagte, Khulekani Mpanza, geskiet word en op die grond val toe hy van ʼn rooftoneel probeer vlug.
Mpanza brand op die polisiebeamptes los terwyl hy vlug. Die polisie skiet terug en Mpanza word gewond en val op die grond neer. Terwyl hy op die sypaadjie lê tussen ʼn heining en ʼn afleweringsvoertuig, stap ʼn polisiebeampte nader en skop die bloeiende Mpanza waar hy lê. Dan stap die konstabel wat hom glo die eerste keer geskiet het nader. Hy praat vlugtig met sy kollega, voordat hy sy vuurwapen op Mpanza rig en hom oënskynlik koelbloedig doodskiet.