Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Jhb-egpaar soek ‘dag en nag’ na vermiste dogter

$
0
0

Alliya Jackson. Foto: Verskaf

Alliya Jackson. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van Turffontein in die suide van Johannesburg soek die afgelope tien dae “letterlik dag en nag” na hul 13-jarige dogter ná haar verdwyning.

Sally Jackson het aan Maroela Media gesê haar jongste dogter, Alliya, het vermis geraak nadat sy dié middag saam met twee vriende na ʼn winkel naby hul huis gestap het. “Die winkel is net om die draai van ons huis en sy stap byna elke dag soontoe. Daar was nog nooit enige probleme nie,” het sy gesê.

Die betrokke middag het Sally en haar man, Leonard, egter bekommerd geraak toe Alliya teen skemer steeds nie tuis was nie. “Ons het gedink sy het dalk na een van haar vriendinne se huis toe gegaan en het hulle gekontak, maar hulle het gesê hulle het Alliya die laaste keer by die winkel gesien toe sy gesê het sy gaan huis toe.” Oproepe na ander vriendinne van Alliya het ook niks opgelewer nie.

Sally, wat nagskof werk, soek sedertdien elke dag heeldag na Alliya deur die gebied rondom hulle huis te fynkam, asook die strate van Rosettenville op en af te stap. “’n Vrou het my ʼn paar dae terug gebel en gesê sy dink sy het Alliya saam met drie swart mans langs ʼn straat in Rosettenville sien staan, maar sy was nie honderd persent seker of dit wel Alliya was nie. Daarom soek ons nou in Rosettenville met die hoop dat sy dalk daar êrens is.”

Wanneer Sally vroegaand werk toe gaan en Leonard van die werk af kom, is dit sy beurt om deur die nag te soek. “Vandat Alliya vermis geraak het, het ek en Leonard seker nog net ʼn paar ure geslaap. Ons soek letterlik dag en nag na haar. Sy is nie die soort kind wat net sal verdwyn sonder om iets te laat weet nie.”

Die egpaar het intussen ʼn saak van vermiste persone by die polisie aanhangig gemaak en vermiste persone-organisasies help ook met die soektog.

Alliya het skouerlengte blonde hare en het ʼn denimbroek, pers trui en silwer skoene aangehad toe sy vermis geraak het. Enige persoon met meer inligting kan die Booysens-polisiestasie by 011 433 5305 of Missing Children SA by 072 647 7464 skakel.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621