Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Dinge word warm vir witwees – persepsie of werklikheid?

$
0
0

afrikaner vraagtekenDie laaste apartheidswet is lank voor 1994 deur die vorige regering uit die wetboek verwyder. Tog is rassistiese wetgewing in volle glorie terug op die wetboek, en het ’n bepaalde diskriminerende uitwerking sodat twee rubriekskrywers wat vir liberale standpunte bekend is, nou oor die onaangename (vir wit) uitwerking daarvan skryf.

“’n Moeilike tyd vir witwees” lui die opskrif onlangs van ’n bekende rubriekskrywer. Die moontlike verrassing is dat dit ’n rubriek van Max du Preez is.

“Politieke houe op wit slaansak” is die opskrif wat Volksblad kies vir ’n rubriek van André le Roux wat onder die titel, “EFF gee nou die pas in SA aan”, op Netwerk 24 gelaai is.

Dit is of onlangse gebeure, soos die EFF se opmars en blatante rassisme by die Johannesburgse Aandelebeurs die wille weghollens uit baie mense, onder wie lede van die Seunse Weenkoor, losgeskud het. Nuwe geluide, wat ’n week of wat gelede ondenkbaar in daardie geledere was, word nou gehoor.

Veral Le Roux trek hom egter steeds in die hoekie in waar amptelike statistieke gebruik word om te bewys wittes het steeds byna almal werk, en swart mense veel minder, en die gevolglike neerslag op die stand van die ekonomie.

Die statistieke mag wel akkuraat wees, maar neem byvoorbeeld nie in ag hoeveel wittes deur pendelhuwelike in die buiteland werk, en ’n gesinslewe grootliks uit Skype bestaan nie. Dit neem nie in ag hoeveel gegradueerdes by wyse van spreke kasregisters beman omdat werk waarvoor hulle aansoek doen vir ander rasse uitgehou is nie.

In die verlede het talle wit boere tydens droogtes uitgeboer omdat droogtehulp in sommige gevalle uitsluitlik vir opkomende boere bestem was.

Die lys is oneindig lank.

Maar is dit wat waargeneem word? Die uwe het onlangs ná ’n prosedure by ’n dokter by ’n KFC-tak in ’n tradisionele wit gebied in die motor bly wag terwyl vroulief die smulkossies gaan kry het. Dit was baie besig, en die motors in die inrybaan het buffer aan buffer gestaan. Iets val op en ’n bietjie eie statistieke word gehou. Uit die volgende tien motors was die insittendes van nege almal swart. Dit was almal deftige rygoed, sommige luukse Duitse sedans, viertrek en so meer. Die enigste motor tussenin met wit insittendes was ’n ou Corolla, die bakwerk blink oorgedoen maar duidelik ’n tuisgemaakte werkie, en elke keer dat die karretjie vorentoe ry, skop dit ’n olie-deurdrenkte wolk rook uit. Hoe later dit geword het, hoe groter en deftiger het die persentasie motors met wit insittendes ook geword soos die mense van die werk af teruggekeer het.

Vanuit ’n statistiese oogpunt is dit gevaarlik om veel uit so ’n skermgreep te neem. Vanuit ’n politieke hoek lyk dit egter anders. Dit is wat wit mense gewoonlik met hul eie oë sien wanneer hul bevoorregting teen die kop geslinger word. In hul eie woongebiede sien hulle naas die groepe werkloses wat sekere strate as “werkverskaffingsburo’s” inspan, ook die samedromming by die drankwinkels. Hulle sien selde die blokke en blokke armsalige plakkershutte wat soos paddastoele opskiet en uitbrei.

Byna almal is ideologies blind, of minstens selektief ideologies blind. ’n Mens hoor byvoorbeeld byna nooit iets oor die stremmende uitwerking van groot gesinne om uit armoedesiklusse te ontsnap nie, of hoeveel van die bestaande werksgeleenthede deur onwettige immigrante opgeneem word nie. En wat is die rol van werkskuheid?

Hoeveel armoede is geskep deur die regering se grondhervormingsplan? Daar waar mense stukkies grond kry waarop nie ekonomies haalbaar geboer kan word nie, en sonder die nodige mentorskap om die kans op sukses wat nog kon bestaan, behoorlik te ondersteun.

’n Groot deel van die probleem is dat die ANC alles deur ’n rasbril betrag. In die proses word daardie dele van die ekonomie wat wel tot produktiewe groei kan lei, met ekonomiese struikelblokke van die mees rassistiese soort belaai, en ander ryp gedruk. Dit skep weer ’n teelaarde vir “fronting” en ander vorme van korrupsie, en dat maatskappye hul aktiwiteite na die buiteland “diversifiseer”. Kortom, sou ’n ekonomie met ’n gesonde enjinkamer en behoorlike buitelandse investering nie almal in die geheel beter gedien het as ’n rasbenepe ideologies-besmette “ekonomies”-maatskaplike ingenieurswese nie?

’n Omgewing waar nie eens skuins opgekyk word wanneer ’n wit gesin self in die Power City-plakkerskamp buite Mosselbaai beland, en ná ’n groot oorstroming saam met die inwoners in die tou van ’n sopkombuis gaan staan wat deur ’n supermark gehou is, maar hulp geweier is omdat hulle dan wit is.

Is dit vreemd dat die Solidariteit Beweging met ’n plan B vorendag kom?

Max skryf in die verwysde rubriek so: “Solidariteit/AfriForum is ook waarskynlik die doeltreffendste belangegroep in die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing vandag. Hulle is vindingryk, energiek, hardwerkend en gefokus. Hulle het die afgelope paar jaar ’n paar klinkende oorwinnings behaal en doen uitstekende werk in afgeskeepte plaaslike owerhede.

“Maar onder baie swart Suid-Afrikaners het hulle ’n beeld van selfsugtige, selfs rassistiese Afrikaner-nasionaliste wat na die ‘goeie ou dae’ verlang. Gaan hul strategie uiteindelik teenproduktief wees?”

Hy gaan voort om die ander ideaal in die woorde van wyle dr. Nico Smith te stel, en vra dan ten slotte: “Wat van ’n nuwe strategie met elemente van albei benaderings?”

Le Roux se slotsom is effens anders wanneer hy NP van Wyk Louw aanhaal: “The native is not only in South Africa, but of South Africa. The native question cuts across the whole of our life, social and economical. The white man’s task in South Africa is to adjust his environment to the individual, and any scheme of education for the European, which leaves out the black man, must be futile.” (Van Wyk Louw, deur J.C. Steyn.)

“Dit was in 1928. Nou is dit 2015.”

Die feit van die saak is egter dat solank ras as die bepalende faktor behou word, so lank gaan veralgemenings die individuele gevalle raak. Daar was byvoorbeeld al pogings om wit, manlike persone met gestremdhede uit te sluit van regstellende aksie, wat dié beleid blatante rassistiese affirmative action sou maak. Dan word mense uit ’n sopkombuistou verwyder – nie oor hul nood wat minder is nie, maar hul velkleur.

En dan het ’n mens nog nie eens begin om die ANC se taktiek om Afrikanerskap outomaties na die rassevlak te neem begin beredeneer nie.

Dit gaan ’n interessante spel afgee. Twee tradisioneel Afrikaanse kampusse, Stellenbosch en Potchefstroom, beweeg nou skynbaar in die rigting van parallelmedium-onderrig as “oplossing”.  By Kovsies, waar dié beleid al jare gevolg is, word nou aangedring op eentalige Engelse klasse alleen, en onder meer aangevoer die parallelle klasse skei studente op grond van ras.

Grondwetlike regte is ’n bysaak.

Ironies om te dink die laaste apartheidswet is lank voor 1994 deur die vorige bewind afgeskaf.

Iemand het dit in oorvloed teruggebring.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!