
Betogende studente by Wits. Foto: Wits/Facebook
Te midde van die onlangse landwye betogings deur studente oor studiegeld, onder die vaandel #feesmustfall, het die Congress of the People (Cope) Maandag aangekondig: Hooligans at varsities must fall!
Die party versoek dat studente tydens registrasie by ʼn hoëronderwysinstansie ʼn dokument onderteken waarin hulle onderneem om hulle in geen omstandighede skuldig te maak aan geweld, verwoestingtogte, brandstigting, plundery en vandalisme nie.
“Diegene wat versuim om die plegtige verbintenis te handhaaf se name moet in ʼn register aangeteken word wat hulle dan verhoed om by enige ander hoëronderwysinstansie te registreer,” het Dennis Bloem, Cope se woordvoerder, gesê.
Hy het gesê studente wat hulle tydens die onlangse betogings aan onwettige optrede skuldig gemaak het, moet strafregtelik vervolg word. “Universiteite moet hulle vervolg en medestudente moet hulle verloën.”
Hy het ook ʼn beroep gedoen op die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) om dié “skollies” nie finansieel te ondersteun nie.