
Die ongelukstoneel. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP
Ahram, ʼn staatsbeheerde koerant in Egipte, berig dat ʼn Russiese lugvaartbeampte in ʼn onderhoud met ʼn plaaslike nuusagentskap dié bewering gemaak het. Die beampte het gesê daar het oor ʼn groot terrein wrakstukke gelê nadat die vliegtuig neergestort het. Russiese owerhede het intussen gesê dit is nog te vroeg om die oorsaak van die tragiese voorval te bepaal.
ʼn Paneel met kenners van Rusland, Egipte, Frankryk en Ierland is aangestel om die voorval te ondersoek. Die ondersoek het vroeg Sondag begin met die deeglike ontleding van die vliegtuig se twee vlugopnemers wat laat Saterdag gevind is.

‘n Wrakstuk. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP
Die Egiptiese kabinet het Sondag gesê die soektog is uitgebrei nadat lyke oor ʼn area van agt vierkante kilometer gevind is. Die vliegtuig het Saterdag met 224 mense aan boord in ʼn bergagtige gebied in die Sinai-skiereiland, ʼn ylbevolkte woestynstreek tussen die Rooisee en die Middellandse See, neergestort. Daar is kort nadat die vliegtuig in Sharm el-Sheikh opgestyg het, kontak met die bemanning verloor.
ʼn Militante groep wat bande het met die Islamitiese Staat (IS) in Egipte het verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar, maar dié bewering kon egter nie bevestig word nie. Sherif Ismail, Egipte se premier, het gesê dit is onmoontlik om die oorsaak van die ongeluk te bepaal tot die data op die vlugopnemers ontleed is.