
Argieffoto
“Ons is nog altyd van mening dat die toepassing van afpersing en strafmaatreëltariewe nooit ’n doeltreffende taktiek vir Sanral [Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap] sou wees om in die eerste plek toe te pas nie,” het Outa in ’n verklaring gesê.
“Die meerderheid van die publiek het die skema verwerp, nie as gevolg van die tariewe nie, maar omdat die skema onregverdig en irrasioneel is. As Gauteng se motoriste in die eerste plek die skema aanvaar het, sou hulle e-tolskyfies gekoop het om van die begin af afslag te geniet.”
Volgens Outa verander die verminderde maandelikse beperking nie die buitensporige koste van insameling en verryking van buitelandse maatskappye nie.
“Ons glo dat ’n paar mense deur Sanral se nuwe wortel aan die neus gelei kan word, maar dit sal nie die huidige 25%-nakomingvlak opstoot na veel meer as 40% nie, en op dié vlak is die skema steeds ’n reusemislukking as gebruikerbetaal-meganisme.”
Outa hou nog altyd vol dat die e-tolstelsel onwettig ingestel is en dat die publiek die volste reg het om nie e-tol te betaal vir die gebruik van Gautengse snelweë nie. “60%-afslag op nul rand wat geskuld word, bly nul sover dit ons betref,” het Wayne Duvenage, voorsitter van Outa, gesê.
Outa het intussen ook ʼn nuwe veldtog bekend gestel wat daarop gemik is om regsondersteuning aan sy betalende lede te bied indien daar regsaksie teen hulle geneem word vir die versuim om e-tol te betaal.