
Die perlemoen waarop beslag gelê is tussen Uniondale en Willowmore. Foto: SAPD
Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het Sondag ʼn operasie op die R34 in Botrivier uitgevoer nadat inligting oor perlemoenstropers ontvang is. ʼn Swart Golf is kort ná middernag opgemerk en agternagesit. “Twee van die insittendes kon daarin slaag om te ontsnap toe die motor van die pad af getrek is terwyl die ander twee mans, in hul 30’s, in hegtenis geneem is.”
Volgens Traut is die vragmotor wat deur die verdagtes begelei is ook van die pad af getrek. Dié insittendes kon ook daarin slaag om te ontsnap. “Daar is op perlemoen van sowat vier ton ter waarde van R6 miljoen beslag gelê.”
Traut het gesê verdere ondersoek het tot die inhegtenisneming van nog drie verdagtes gelei. Die vyf verdagtes, tussen 25 en 45 jaar oud, sal binnekort in die Caledon-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van perlemoen.
Die blitspatrollie het intussen ook Sondag ʼn verdagte in hegtenis geneem tussen Uniondale en Willowmore nadat perlemoen ter waarde van R1,5 miljoen op ʼn bakkie gevind is. Die 26-jarige verdagte sal ook binnekort in die hof verskyn.