Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuutste oor kommissie van ondersoek na universiteite

$
0
0

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Die presidensie het aangekondig dat pres. Jacob Zuma tans die vestiging van ’n amptelike kommissie van ondersoek verken om te kyk na transformasie, gratis onderwys en institusionele selfseggenskap by universiteite.

“Die regering, in samewerking met universiteite, ondersoek verskeie opsies om aan die verbintenis deur pres. Zuma van ’n 0%-verhoging in universiteitsgeld in 2016 te voldoen,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Alle universiteite sal betrek word om te verseker dat daar prakties gestalte gegee word aan die letter en gees van die ooreenkoms. Die ooreenkoms is op 23 Oktober bereik tydens ʼn vergadering tussen die regering, visekanseliers van universiteite, raadvoorsitters en studenteleiers by die Uniegebou in Pretoria.

Die presidensie het gesê ’n aankondiging sal gedoen word sodra die konsultasieprosesse afgehandel is. Die president het ook verlede maand aangekondig dat verdere beraadslaging sal plaasvind oor ander kwessies soos transformasie, gratis onderwys, institusionele selfseggenskap en die lewensomstandighede van studente op kampusse.

Pres. Zuma het gesê bestaande ondersoeke in die gebied van transformasie van hoër onderwys, waaronder die verbreding van toegang vir studente uit arm huishoudings, sal in ag geneem word. “’n Aankondiging oor die kommissie sal mettertyd gedoen word.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621