
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het sy persoonlike rykdom van meer as R110 miljoen verklaar, het die Register van Ledebelange Donderdag gewys.
Die register dui Ramaphosa se aandele in ses maatskappye aan, insluitend Ntaba Nyoni Estates (aandele ter waarde van R90 miljoen), Ntaba Nyoni Feedlot (R6 miljoen), Rail-to-Rail (R8.6 miljoen), Connaught Plc (R3.5 miljoen), en Mondi Bpk (R2.2 miljoen).
Bykomend tot dié aandele, besit die adjunkpresident 31 meenthuise in Johannesburg, waarvan sewe aftreehuise is, en twee woonstelle in Kaapstad.
Onder sy geskenke het hy ʼn “Opperste versorgersteen in ʼn swart leerbandjie”, ʼn geskenk van die burgemeester van Bandung in Indonesië, verklaar. Volgens ʼn internetverklaring help dit iemand om “verantwoordelikheid te aanvaar, en geduld te laat vermeerder”.
Hy het ook ʼn moulose baadjie, ʼn paar bottels rooiwyn en ʼn boksie nougat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sendingskantoor in Lesotho ontvang.
Dipuo Peters, minister van vervoer, het ʼn paar aandele in, onder andere, Media24, MultiChoic en Sasol Inzalo. Die waarde van die aandele word nie aangedui nie. Haar geskenke sluit ʼn handsak van Buscor in, wat sy gehou het nadat president Jacob Zuma vir haar toestemming gegee het; ʼn fiets van die stad Polokwane; en ʼn skaakstel van die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid.
Nhlanhla Nene, minister van finansies, het ʼn Mont Blanc Quartz-horlosie in vlekvrye staal ontvang. Die waarde daarvan word nie aangedui nie, maar Mont Blanc-horlosies verkoop vir tien duisende rande.
Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het aandele in 12 maatskappye, waaronder Anglo American Plc, Anglogold Ashanti Ltd, Gold Fields en British American Tobacco. Die waarde van die aandele word nie aangedui nie. Hy het ook verskeie geskenke, waaronder biltongmandjies en wyn ontvang.
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, het slegs een geskenk verklaar, naamlik ʼn bottel wyn van ongeveer R90 van die Universiteit Stellenbosch. Hy het nie enige aantekeninge in die eiendomskolom gemaak nie, maar hy het verskeie aandele en ander finansiële belange in die Ratanang-familietrust, Kopano Liefdadigheidstrust, Mazimbu Beleggingstrust, en Munzhedzi-familietrust verklaar. Die waarde van die aandele word nie aangedui nie.
Pravin Gordhan, minister van plaaslike regering en tradisionele sake, en voormalige minister van finansies, het aandele en finansiële belange in 33 maatskappye verklaar, insluitend 170 aandele ter waarde van R308 140 in Naspers.