Kapt. John Rheeder, woordvoerder van die polisie, het gesê Kobus du Toit (74) en sy 72-jarige vrou is omstreeks 16:45 op hul plaas Brakkenfontein aangeval. Rheeder het gesê ʼn VW Polo met vier insittendes het by die plaas opgedaag en gevra hulle wil ʼn bees koop. Nadat ’n werker hulle na ʼn beeskraal geneem het om ʼn bees uit te kies, het hulle versoek om die eienaar van die plaas te sien sodat hulle oor die prys van die bees kan onderhandel.
“Mnr. Du Toit het hulle in ʼn kantoor op die plaas gespreek. Hulle kon egter nie oor ʼn prys ooreenkom nie en ʼn rusie het ontstaan,” het Rheeder gesê. “Twee van die verdagtes het vuurwapens uitgeruk en al die selfone in die huis en die kluis se sleutels geëis.”
Die aanvallers het Du Toit in die huis ingeneem waar hulle sy vrou vasgemaak het. Voor hulle hom ook kon vasmaak, het hy ʼn vuurwapen wat hy aan sy lyf gedra het, uitgehaal en op die verdagtes geskiet. Hy het later gesê hy vermoed hy het een van die aanvallers gewond, maar dit is nog nie duidelik of dit wel die geval is nie, het Rheeder gesê.
“Die aanvallers het teruggeskiet en mnr. Du Toit is in albei bene getref en in sy maag,” het hy gesê. “Een van die aanvallers het so groot geskrik dat hy deur ʼn venster gespring het om te probeer ontsnap en homself redelik erg gesny het. Ons vermoed hy het die slagaar in sy arm afgesny.” Die ander drie verdagtes het in die VW Polo gespring en met Du Toit se vuurwapen en drie selfone gevlug.
Nadat die polisie ontbied is, is die liggaam van die verdagte wat deur die venster gespring het, ongeveer 800 m van die huis af gekry. Hy het doodgebloei. Rheeder het gesê die verdagte is welbekend aan die polisie, maar hy wou nie uitbrei hoekom dit die geval is nie.
“Die Polo is later by Fitchers Corner, nie ver van die plaas af nie, gevind. Die voertuig is vroeër tydens ʼn kaping in die Motherwell-gebied gesteel,” het hy gesê.
Du Toit is tans in die hospitaal in ʼn ernstige maar stabiele toestand. Sy vrou is baie getraumatiseerd, maar nie beseer nie, het Rheeder gesê. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.
Johan van der Berg (54), ʼn afgetrede tegnikus en sakeman, is Vrydagaand op sy kleinhoewe in dieselfde gebied vermoor.