
Foto: Twitter
Honderde polisiebeamptes, onder wie lede van die taktiese-reaksie-eenheid, het Vrydagoggend hekke en rolle doringdraad by die Uniegebou in Pretoria aangebring terwyl duisende studente daarheen begin stroom het.
Lede van die openbare-orde-polisie is ook by die Uniegebou waargeneem. ʼn Waterkanon en brandweerwa het ook gereed gestaan.
Pres. Jacob Zuma sal Vrydag met studenteleiers en die bestuurspanne van die onderskeie universiteite vergader om die dooiepunt wat in die onderhandelinge oor studiefooie bereik is, te bespreek. Hy sal na verwagting ook die studente toespreek. Dit volg nadat betogings vandeesweek op 18 kampusse van tersiêre instansies oor die hele land gewoed het.
Honderde studente is intussen met busse van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Johannesburg (UJ) na Pretoria vervoer. Studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) het intussen ʼn optog deur die strate van Pretoria gehou op pad na die Uniegebou.






