Die Suid-Gautengse hooggeregshof het Maandag ʼn aansoek geweier om verdere uitstel vir die verhoor van Dawie de Villiers, die hoof van ʼn modelagentskap in Kempton Park wat skuldig bevind is op aanklagte van onder meer verkragting, seksuele aanranding en bedrog.
Regter Cassim Moosa het gesê daar is geen regverdiging vir die verdere uitstel van die hofsaak óf die verkryging van die transkripsies nie.
Moosa het gesê die hof het vroeër uitstel toegestaan omdat hy die beskuldigde toegelaat het om die transkripsies te verkry, maar dit is duidelik dat De Villiers net van vertragingstaktieke gebruik maak.
Riaan Greyling, De Villiers se verdediging, het gesê daar is steeds leemtes in die transkripsies en dat die beskuldigde voel hy het in dié stadium nie ʼn regverdige verhoor nie.
“Hy het die grondwetlike reg om te appelleer teen wat ook al die vonnis is,” het Greyling gesê.
Moosa het die staat en die verdediging beveel om enige getuies gereed te kry wat benodig word om in die hof te verskyn sodat die saak tydens die volgende hofverskyning voort kan gaan.
Dawie de Villiers is die hoof van Modelling South Africa in Kempton Park en is skuldig bevind op aanklagte van onder meer verkragting, seksuele aanranding, bedrog en dat hy kinders aan pornografie blootgestel het.
De Villiers se vonnisoplegging sloer al sedert 8 Maart nadat hy op 8 Februarie op 32 aanklagte skuldig bevind is vir dade wat hy sedert 2011 gepleeg het.
Sy laaste hofverskyning was op 27 Junie waarna sy vonnisoplegging vier keer uitgestel is. Dit volg nadat De Villiers ʼn nuwe regspan aangewys het en die transkripsies van vorige sake nie gereed was nie.
Regter Cassim Moosa het gelas die transkripsies moet by Maandag se hofverskyning gereed wees.
Die saak is uitgestel tot 12 September vir vooruitspraak-verrigtinge.
Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.