Die ouers van die 11 maande oue terminaalsiek Charlie Gard van Engeland het Maandag die regsgeding vir alternatiewe behandeling wat moontlik sy lewe kan red, laat vaar.
Die uiters seldsame Encephalomyopathic mitochondrial DNA depletion-sindroom (MDDS) is kort ná jong Gard se geboorte by hom gediagnoseer. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of beide die spiere en brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te beweeg of aksies uit te voer nie.
Volgens Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het dié siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.
Die egpaar se prokureur, Grant Armstrong, het Maandag aan die hooggeregshof in Engeland gesê volgens kundiges is daar nie meer kans om die seuntjie se lewe te red nie.
“Dit is te laat vir Charlie… Daar is geen kans dat behandeling meer sy lewe kan red nie. Dit gaan niks help om hom op die asemhalingsmasjien te hou nie,” het Armstrong gesê.
Hy het gesê die skuld moet op die hof geplaas word wat die hofsaak laat sloer het, omdat Charlie se lewe glo gered kon gewees het as die alternatiewe behandeling van die begin af toegestaan was.
Die Yates-egpaar was sedert die begin van die jaar in ʼn ingewikkelde regsgeding gewikkel om alternatiewe behandeling vir Charlie aan te vra nadat die hospitaal aangeraai het dat hy ʼn vreedsame dood moet sterf.
“Ons wou hom net ʼn kans gee om te lewe – en nou is ons nie in staat daartoe nie. Ons as ouers moes nou die moeilikste besluit maak wat ouers ooit kan doen,” het ʼn gebroke Connie buite die hof gesê.
Talle ondersteuners van die saak het buite die hof saamgedrom waar hulle hul misnoeë en ongeloof teenoor die Britse regstelsel uitgespreek het.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, en pous Franciskus het hulself vroeër vandeesmaand tot sosiale media gewend om ondersteuning vir Charlie se saak te werf sodat die toestemming vir behandeling toegestaan word.
Dit is onseker wanneer Chris en Connie hul seun moet groet.