ʼn Polisieman van Boikhutsong naby Brits in Noordwes is soek nadat hy glo sy meisie doodgeskiet het toe hy haar na bewering by die huis met haar eks-kêrel betrap het.
Superintendent Isaac Mahamba, woordvoerder van die polisie, sê die polisielid was nié aan diens ten tyde van die voorval nie.
Volgens Mahamba was die man vir ʼn tyd weg van sy huis toe hy sy meisie en haar eks-kêrel met sy terugkeer na die huis opgespoor het.
Hy sê daar het glo ʼn rusie tussen die drie partye ontstaan, waarna die polisielid sy pistool uitgepluk en skote op sy meisie afgevuur het.
Die eks-kêrel het daarin geslaag om van die toneel te ontsnap, terwyl sy meisie dood is.
Mahamba sê die man het gevlug en die polisie kon teen Maandagaand nog nie daarin slaag om hom vas te trek nie.
“Die Tshwane-polisiedepartement betuig sy medelye met die familie en beloof om die skuldige aan die pen te laat ry,” het hy gesê.
Hy moedig enigiemand met meer inligting aan om die polisie te kontak by 082 891 8625 of 08600 101111 (misdaadnoodlyn).