
Die foto is digitaal gemanipuleer om die seuntjie, skool en werker se identiteite te beskerm. Foto: Facebook
Die ouers van die driejarige seuntjie wat Maandag in die bibberende koue in Rustenburg heeltemal kaal met ‘n tuinslang afgespuit is, het Donderdag uiteindelik met rolspelers vergader by die kleuterskool waar die voorval plaasgevind het.
Die seun se 38-jarige pa, wie se naam weerhou word om die seuntjie se identiteit te beskerm, het aan Maroela Media gesê hulle het om 17:30 met die skoolhoof, wat ook die eienaar van die kleuterskool is, ʼn juffrou wat in ʼn senior posisie is, en die werker wat die seuntjie gewas het, vergader.
“Ná sowat ʼn uur het ons ʼn doodloopstraat bereik. Die skool sien niks fout met wat hulle gedoen het nie, toon geen berou en het nie eens om verskoning gevra nie,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.
“Ek het hulle pertinent gevra of hulle dink dit is reg om ʼn kind kaal buite in die koue met koue water nat te spuit en hulle bly by hul standpunt hulle het bloot net ʼn kind skoongemaak wat ʼn glipsie gehad het.”
Die pa het gesê daar is aan hom verduidelik dat al die kinders buite gespeel het toe die voorval plaasgevind het.
Die juffrou wat toesig gehou het, is vlugtig in die gebou in om haar kosblik te gaan bere toe sy hoor daar loop water in die seuntjies se badkamer. Sy het glo die werker opdrag gegee om te gaan kyk of een van die kinders dalk ʼn kraan oopgelos het.
“Die werker sien toe my seuntjie se maag het gewerk en hy was met toiletpapier en water besig om te probeer skoonmaak. Hy wou gaan piepie en toe het sy magie gewerk. Sy klere en die badkamer was glo bemors.”
Volgens die pa is daar aan hom verduidelik die werker het die seun na buite geneem aangesien die badkamer bemors was. Die seun en die werker is na buite na ʼn afgesonderde hoekie wat uit die publiek en ander kinders se oog is.
“Die werker beweer sy het daar sy klere uitgetrek, warm water in ʼn 5ℓ-emmer gegooi waarmee sy hom eers afgewas het, terwyl die tuinier sy klere met ʼn tuinslang afgespuit het. Die werker het dit self aan ons verduidelik en het haarself in ʼn stadium weerspreek en gesê daar was koue water in die emmer. So ons weet nie eintlik of daar regtig warm water in was nie.”
Hy het gesê daarna het sy die tuinslang, met koue water, gebruik net om van die knie af ondertoe te spuit. Die seun het erg gehuil en die juffrou het omgestap om te kyk wat aangaan en het toe gesien die werker is “amper klaar” met die skoonmaakproses.
Dit is in dié tyd wat die vrou wat alles aan die lig gebring het, Annelie Nel (52), en haar kollega, ʼn onderwyser, by die skool stilgehou het om aanwysings te vra.
“Annelie is na die voorhek en het daar die skoolhoof ontmoet en die skoolhoof vir aanwysings gevra. Intussen het Annelie en haar kollega gehoor hoe erg huil my kind. Die skoolhoof beweer egter sy het hom nie hoor huil nie. Toe Annelie terugkom by die voertuig waarin sy en die kollega was, het haar kollega vir haar gesê die seun is kaal en word natgespuit en dit is toe dat die kollega die foto (presies om 12:46) geneem het.”
Hy verduidelik dat die plek waar sy seuntjie, een van ʼn tweeling, gewas en afgespuit is, nie sigbaar van die pad of van die skoolhek is nie. “Die werker beweer sy het die handdoek in die kombuis vergeet. Die foto is presies geneem toe my seuntjie kaal agter haar aangeloop het om die handdoek te gaan kry. Dit was wel in die openbaar,” het hy bygevoeg.
“Hulle beweer dit is die eerste geval wat hulle ʼn kind só skoon gemaak het omdat die badkamer bemors was. Ons het egter bewyse van meer ouers en ʼn oudonderwyser wat daar gewerk het wat beweer dit het al verskeie kere gebeur.”
Die pa het ook gevra wie opdrag gegee het dat sy seun só skoongemaak moes word. “Die werker het gesê sy het self besluit om dit te doen. Maar ek neem die juffrou kwalik, want sy het gesien wat gebeur het, maar nie tussenbeide getree nie omdat sy gesien het hulle is amper klaar. Sy is ʼn senior personeellid en kon besef het dit is gevaarlik en my kind kan siek word om kaal op die koudste dag van die winter só skoongemaak te word. Die juffrou is toe na die skoolhoof om te sê wat gebeur het en dat my seun huil. Die skoolhoof het toe gaan kyk vir skoon klere en daar was nie en dit is tóé dat sy my vrou (presies om 12:49) gebel het. Ons woon skaars vyf minute se ry van die skool en my vrou het soontoe gery om vir hom klere te vat.”
Toe die 36-jarige ma daar opgedaag het, het haar seuntjie buite op die skoolhoof se skoot gesit met ʼn handdoekie om hom. “Die skoolhoof sê dit was haar manier om hom te troos en compassion te wys, want hy het toe nog gehuil, waarna my vrou hom huis toe gevat het.”
Die skool het glo aanvanklik Maandag ʼn ander weergawe vertel en die ma was nie dadelik bewus daarvan nie. Hulle het dit eers die volgende dag uitgevind nadat hulle Nel se veelbesproke plasing op Facebook gesien het. Sy het die foto, wat haar kollega geneem het, op Facebook gedeel omdat sy ʼn passie vir kinders het, fout daarmee gesien, en wou graag die ouers opspoor. Die seuntjie se ma was woedend toe sy Dinsdag die plasing sien en het dadelik haar seuns uit die skool gaan haal.
Die seuns was in dié kleuterskool sedert hulle een jaar oud was.
Die pa het gesê hulle is in die proses om ʼn nuwe kleuterskool vir hul seuns te vind en dat hulle nie oor die voorval met hulle praat nie. “Sy boetie het eergisteraand uit sy eie uit gesê hy het sy boetie jammer gekry en wou graag na hom toe gaan toe hy hom so erg hoor huil.”
Die pa het gesê hy gaan beslis verdere stappe doen deur die departement van maatskaplike werk en die departement van onderwys van die voorval in te lig vir ʼn behoorlike ondersoek by dié kleuterskool.
Childline is ook intussen van die voorval bewus gemaak en begin volgende week met ʼn ondersoek om te bepaal of dit moontlik kindermishandeling was.
“Wat vir my die ergste is, is dat hulle niks fout sien met wat gebeur het nie en ‘dat die hele bohaai ongegrond is’. In ʼn stadium wou ons weet of hulle dit met hul eie kinders sou doen waarop die juffrou geantwoord het, nee sy sou nie,” het die pa gesê.
Die eienaar van die kleuterskool kon Vrydag steeds nie vir kommentaar bereik word nie ná verskeie pogings sedert Dinsdag aangewend is. Sy is glo Dinsdag in die hospitaal opgeneem en moes Woensdag ʼn operasie ondergaan en is intussen ontslaan. Maroela Media kon wel Dinsdagoggend die skoolhoof bereik, maar sy het geweier om oor die telefoon kommentaar te lewer en het ʼn persoonlike onderhoud versoek. Sy het sedertdien op geen verdere navrae reageer nie.