ANC-LP Makhosi Khoza sê indien die doodsdreigemente wat sy tans ontvang wel tot haar dood lei, sy nie in stilte sal sterf nie.
Dit kom nadat die ANC in KwaZulu-Natal vroeër vandeesweek gesê het die party sal dissiplinêre stappe teen Khoza doen omdat sy “die kernwaardes van die ANC blatant verraai het”. Khoza het Dinsdag by ʼn geleentheid wat as deel van Nelson Mandela-dag gehou is, ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om te bedank en gesê sy vind dit onuithoudbaar om gelei te word deur ʼn man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue teister.
Sy het gesê hoewel sy vanaf die ouderdom van 12 jaar deel van die ANC was, het sy begin om die konsep van demokratiese sentralisme te bevraagteken. “Ek het gevind dat uitsprake van die ANC-leierskap, wat kies om witmonopolie-agente te sien eerder as opregte bekommernisse van die mense, teenstrydig is met die einste ANC-grondwet wat nog altyd my politieke morele gewete gevorm het.”
Khoza het Donderdag in ʼn inskrywing op haar Facebook-profiel gesê sy word nou as ʼn moeilikheidmaker uitgebeeld deur diegene wat wil hê sy moet stilbly. “Ek word van uitsonderlike swak dissipline beskuldig omdat ek opstaan vir dit waarin ek glo,” het sy geskryf. “Hoewel sommige van my comrades my ondersteun, het ander teen my gedraai en my van opstandigheid beskuldig terwyl hulle kies om hulle te skaar by diegene wat my en ons beweging wil seermaak en inderwaarheid ons nasie wil vermoor.”
Khoza het gesê baie mense moes “ʼn stille dood sterf” toe hulle probeer het om op te staan vir dit waarin hulle glo. “Die herinnering van ʼn jong vrou wat gedurf het om ’n magtige man van verkragting te beskuldig, hang steeds in die lug, selfs nadat sy verban is tot ʼn stille dood. Hoekom moet my liggaam gevoeg word by die ander wat onskuldig gesterf het en ek moet stilbly daaroor? Hulle kan my maar etiketteer, maar my besluit is gemaak. Ek sal nie in stilte die nag ingaan nie.”
Sy het beklemtoon dat sy nie die enigste ANC-LP is wat al uitsprake van dié aard gemaak het nie en het genoem dat Pravin Gordhan ook ʼn paar dae gelede gesê het Zuma moet bedank. Volgens Khoza is daar ʼn ander regstelsel in die ANC vir vroue, aangesien verskeie ANC-leiers hulle al in die openbaar teen die president uitgespreek het.