
Betogende studente by UP. Foto: GrootFM/Twitter
“Hulle moet nie klasgeld opstoot nie, ongeag die 6% wat Blade [Nzimande] gister gegee het. Ons wil nie ’n verhoging in klasgeld hê nie want ons klasgeld is reeds te buitensporig vir arm studente,” het Karabo Sekhukhuni, woordvoerder van die #UPrising-studentebeweging, gesê.
“Ons het die armste van arm studente aan die universiteit. Die studente wat daagliks in die biblioteek slaap het net geld vir registrasiegeld gehad en niks anders nie. Die studente is baie vyandig oor die 6%. Ons verstaan nie hoe Blade kan pleit vir daardie verhoging in klasgeld nie.”
Sekhukhuni het gesê die kampus sal telkemale tot stilstand gebring word totdat daar aan die studente se eise voldoen word. Toe hy gevra is of studente nie bekommerd is dat hulle moontlik hul eksamens kan druip weens verlore akademiese tyd nie, het Sekhukhuni gesê die eksamenroosters sal moontlik aangepas moet word.
“Ons gee die bestuur tot Vrydag om terug te kom na ons toe. Ons memorandum voer onder meer aan dat indien die betogings langer as beplan aanhou, hulle alle akademiese programme moet aanpas.”
UP sowel as die Universiteit van die Vrystaat het Woensdag klasse en eksamens opgeskort nadat studente aangesluit het by die betogings wat landwyd by universiteite voorkom. Volgens UP is klasse opgeskort sodat daar op ʼn vreedsame wyse na oplossings gesoek kan word.
“Toeste en eksamens vir 21 Oktober is herskeduleer. Geen studente sal benadeel word deur die aanpassings aan die akademiese program nie. Gevolglik word daar nie van personeel verwag om op die kampus te wees nie. Daar sal slegs van noodsaaklike steundienspersoneel verwag word om vir diens aan te meld,” het die universiteit in ’n verklaring gesê.
Studentebetogings teen ʼn toename in klasgeld het verlede week by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) begin en vinnig na ander universiteite regoor die land versprei.