Johan Helberg (52) is tans in ʼn stabiele, maar ernstige toestand in die waakeenheid van die Kiaat-private hospitaal tussen Nelspruit en Witrivier.
Marna Roets, Helberg se eksvrou, het aan Maroela Media gesê die rooftog het Maandagoggend vroeg by Helberg se huis plaasgevind. “Johan se vrou, Yolandi, was op pad om haar dogtertjie en ʼn maatjie skool toe te neem. Hulle was reeds in die motor toe die dogter uitgeklim het om iets in die huis te gaan haal wat sy vergeet het. Dit is toe dat vier rowers op hulle afgestorm het,” het sy gesê.
Die rowers het Yolandi en die twee kinders terug in die huis ingedwing. Johan, wat nog in die huis was, het in ʼn struweling met die rowers betrokke geraak en skote is afgevuur. “Johan is in die maag en skouer geskiet,” het Marna gesê. “Hy kon in ’n stadium daarin slaag om die vuurwapen weg te draai van hom af en twee van die verdagtes is ook raakgeskiet, een in die hand en een in die been.”
Volgens Marna het die rowers op die vlug geslaan. Dit is nie duidelik of enigiets gesteel is nie. Helberg, wat nie ʼn mediese fonds het nie, is na die Tonga-hospitaal in Tonga View gehaas, maar dokters kon hom glo nie daar behandel nie. Dit is toe dat “die engele” ingetree het, het Marna gesê.
ʼn Inwoner van die gemeenskap het betaal sodat ʼn mediese helikopter Helberg na die Themba-hospitaal in Kabokweni kon neem, waar hy gestabiliseer is. “Hulle kon hom ook nie daar behoorlik behandel nie. Sy arm is in die aanval gebreek en die been het heeltemal gesplinter. Hulle het sommer net gips aangesit sonder om iets aan die been te doen,” het Marna gesê.
“Sy oogbank is oopgeslaan en het erg gebloei, maar hulle het nie die wond toegewerk nie. Hulle het ook die koeëlwond in sy skouer net aan die voorkant toegewerk, maar nie agter waar die koeël weer uit is nie, so die wond het net aanhou bloei.” Weer eens is die gesin se gebede verhoor toe ʼn lid van die gemeenskap die deposito by Kiaat-hospitaal betaal het sodat Helberg daar opgeneem kon word.
“Hier is ʼn groter hand in hierdie saak, baie groter as wat enige van ons ooit kon droom,” het Marna gesê. “Die ambulansdienste wat Johan Kiaat-hospitaal toe geneem het, het ook gister gebel om te sê daar sal nie ʼn rekening wees nie. Ek weet nie of hulle dit vir ons gratis gedoen het en of iemand dit vir ons betaal het nie. Ek weet net dat engele Johan se lewe gered het.”
Helberg is Dinsdagaand geopereer om die koeëlwonde skoon te maak en te heg, asook sy gebreekte arm te behandel. “Hy is nou in die waakeenheid en word deurentyd gemonitor. Hy het verskriklik pyn. Ons glo egter hy is buite gevaar en dat hy van hier af net sal aansterk en herstel,” het Marna gesê.
Die familie het intussen ʼn fonds gestig vir finansiële bydraes om vir Helberg se hospitaalbehandeling te betaal. Die fonds word deur die nie-winsgewende stigting, In His Honour Outreach Foundation, bestuur. Meer besonderhede oor die fonds kan hier verkry word.