Volgens die party het hy betroubaar by die gemeenskap verneem dat die Orange Farm-brandweerstasie vir die afgelope twee maande nie brandweerwaens het nie. Boonop is vyf brandweermanne glo afgedank en ander geskors omdat hulle kwessies oor hul werkomstandighede geopper het insluitend die tekort aan brandbestrydingstoerusting.
Vyf kinders tussen die ouderdomme van 4 en 17 is in die brand dood vermoedelik weens rookinaseming. Ntobeng Ntobeng, woordvoerder van die EFF, het gesê gemeenskapslede het hul bes probeer om die vuur met emmers water te blus, maar hulle kon nie daarin slaag nie omdat die naaste waterpunt ver van die huis af is.
“Die EFF is hoogs teleurgesteld dat die brandweer weens onvoldoende toerusting by die stasie nie die lewe van hierdie onskuldige kinders kon red nie,” het hy gesê. “Die brandweerstasie is skaars twee minute van die huis af.”
“Die EFF het al verskeie klagtes van die Johannesburgse, Tshwane- en Ekhurhuleni- mediese dienste ontvang,” het hy gesê. In al drie metropolitaanse munisipaliteite het brandweermanne ernstige kommer en klagtes uitgespreek oor die toestande waarin hulle moet werk.”
Ntobeng het gesê klagtes wissel van swak behandeling deur die bestuur tot ernstige klagtes soos toerustingtekorte, die swak toestand van toerusting, die deel van beskermingsmaskers, ambulansdienste wat weier om te werk omdat hulle nie oortyd betaal word nie en bestuur wat weier om jaarlikse verlof aan brandweermanne toe te staan.
“Hierdie is ʼn teken van ʼn onverskillige en hartelose regering wat weier dat werkers in regverdige werksomstandighede werk en nie omgee vir die welsyn van arm swart gemeenskappe nie,” het hy gesê.
“Die blaam vir hierdie kinders se dood kan alleenlik voor die deur van die lede van die burgemeesterskomitee vir nooddienste en veiligheid van Johannesburg geplaas word. Dit is ʼn hartseer dag om te sien hoe sleg ʼn swart regering sy eie mense behandel.”