Die appèlhof in Bloemfontein het die metroraad se aansoek om spesiale verlof tot appèl van die hand gewys nadat twee appèlregters bevind het die metroraad kon nie daarin slaag om aan te toon dat gronde vir sodanige appèl bestaan nie.
Die hofstryd oor 25 straatname in Pretoria en omliggende gebiede, wat sonder ʼn behoorlike proses verander het, duur nou reeds sedert 2012. In April van daardie jaar het die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, aangekondig dat die name van 25 strate in die middestad en elders in die metro verander gaan word om hulde te bring aan verskeie struggle-helde.
Die metroraad het egter destyds nagelaat om sy eie hersiene beleid rakende straatnaamveranderings na te volg toe die name van strate soos Kerkstraat, Schoemanstraat, Vermeulenstraat, Andriesstraat, Voortrekkerweg en Zambezirylaan nuwe name moes kry. Strydig met sy eie beleid het die raad onder meer nagelaat om wykskomitees regdeur die metropool te konsulteer.
In April 2013 het regter Bill Prinsloo ʼn dringende interdik aan AfriForum toegestaan om die metroraad te verbied om hangende ʼn hersieningsaksie wat vroeër deur AfriForum van stapel gestuur is, voort te gaan met die verwydering van die ou name. Die metroraad het destyds die dringende hofverrigtinge voor regter Prinsloo summier geïgnoreer en selfs ná die verlening van die interdik, voortgegaan om naamborde met die historiese straatname op te verwyder.
Op 2 Junie vanjaar het ʼn volbank van drie regters van die hooggeregshof in Pretoria die metroraad se appèl teen die interdik verwerp. Regters Molefi, Jordaan en Pretorius was in hul uitspraak baie krities oor die metroraad se minagtende optrede teenoor die hangende regsprosesse en die interdik wat uiteindelik verleen is.
In reaksie op die uitslag van die appèl het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê hy is verheug oor die oorwinning in AfriForum se stryd om wedersydse respek vir die erfenis van kulturele minderhede in die Suid-Afrika te bevorder. “Die beste praktyk internasionaal is om erkenning aan meer as een pleknaam vir ʼn plek te gee en sodoende te verseker dat niemand benadeel of uitgesluit word nie. Daar is geen rede waarom hierdie resep nie ook hier gevolg kan word nie,” het Spies gesê.