Die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) het Woensdag sy skok uitgespreek oor die skielike bedanking van James Aguma, die hoof finansiële beampte van die beleërde SAUK.
Aguma se bedanking kom voordat daar uitspraak gelewer kon word in verband met die dissiplinêre prosesse teen hom.
Themba Godi, Scopa-voorsitter, het in ʼn verklaring gesê die komitee sien Aguma se bedanking as “ʼn erkenning van skuld vir die finansiële gemors waarin die SAUK homself bevind”.
“Mnr. Aguma het miskien vermy dat ʼn lys van klagtes teen hom ondersoek word, maar as Scopa doen ons ʼn beroep op die tydelike SAUK-raad om die ondersoek voort te sit om die strafregtelike aanspreeklikheid van alle beamptes en bestuurders by die SAUK, insluitende mnr. Aguma, te bepaal.
“Na aanleiding van die interne ouditverslag oor kontrakte wat outomaties hernu word, glo Scopa dat sommige beamptes, insluitend mnr. Aguma, verdere vrae het om te beantwoord. Scopa doen ʼn beroep op die interne forensiese ouditeenheid van die SAUK en die spesiale ondersoekeenheid om die ondersoek te bespoedig sodat die persone wat verantwoordelik is vir onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende besteding aanspreeklik gehou kan word.”
Scopa het ook die SAUK se tydelike raad gelukgewens met hul pogings om die SAUK reg te ruk en “ʼn einde te bring aan die strafloosheid wat oortreders soos mnr. Aguma vir te lank geniet het”.
“Soos Scopa voorheen gesê het, die gety het gedraai teen korrupte beamptes by die SAUK en as ʼn komitee sal ons voortgaan om die SAUK fyn dop te hou totdat daar streng gehoor gegee word aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die regulasies van die nasionale tesourie oor die bestuur en besteding van openbare fondse.”